Minuut se stilte vir blondekoppie wat vandag rehab toe geskuif word
Daar word gevra dat almal om 10:00 ’n minuut se stiltetyd sal hou vir die blondekop peutertjie wie vandag na rehabilitasie toe geskuif word.
Renicke Coetzer (21-maande) se mamma, Dijané, het gevra dat inwoners saam sal stil raak en Renicke in gebed sal opdra wanneer sy vandag vanuit die intensiewesorgeenheid na ’n rehabilitasiehospitaal geskuif sal word.
Renicke het groot verbetering gewys nadat sy meer as ’n maand in die intensiewesorgeenheid van die Garden City Hospitaal op asemhalingsmasjiene gelê het.
Sy het op 1 Junie gestik aan medikasie en haar braaksel ingeasem.
Nadat haar hartjie gestop het weens ’n gebrek aan suurstof en noodbehandeling gedoen is, het skanderings aanvanklik getoon dat Renicke breintrauma opgedoen het, en waarskynlik aan breinverlamming sou ly.

Gebed het egter vir kleine Renicke deurgedra, en skanderings het later gewys dat die breinskade minimaal is.
Daar is gister op die gebedsgroep deur Dijané gesê dat haar dogtertjie van die asemhalingsmasjien afgehaal is en meer as ’n 100-uur op gewone suurstof kon uithou.
Daar is ook besluit om binne-aarse voeding te staak en om Renicke van medikasie af te speen.

“Wanneer sy wakker word, is haar ogies mooi oop, maar sy lyk bietjie verwilderd omdat sy nie verstaan wat aangaan nie.”
Vandag is daar egter groot opwinding omdat Renicke vanuit intensief na ’n rehabilitasiehospitaal geskuif word.
• Skarebefondsing is vir Renicke gestig omdat die gesin se mediesefonds uitgeput is, en die gesin hulp benodig vir haar rehabilitasie en verblyf sodat Dijané naby haar baba kan wees.
Indien iemand bydraes wil lewer kan hulle die volgende skakel besoek:
https://www.backabuddy.co.za/campaign/renicke-coetzer
