News

Omgeevrou sterf by haar huis

Ann Vermaak (75) het nie edelgesteentes op die aarde bymekaar gemaak nie, maar mense se harte gesteel met haar sagte omgeehart.

Tannie Ann Vermaak, soos sy deur talle onthou word, is Saterdag rustig by haar huis by die Benoni Landbouhoewes oorlede.

Sy en haar man, Salie, het die oggend nog ontbyt saam geeet, waarna hulle op hul lekker ruim stoep gaan sit het.
Op ’n stadium het sy gesê sy voel nie lekker nie en dat sy ’n rukkie wil gaan lê.

Oom Salie het na ’n rukkie gaan inloer om te kyk of alles reg is en gesien daar is fout.
Hul kleindogter, Clarissa, het hartmassering gedoen en later ook haar skoondogter, Ria, maar sy is kort daarna oorlede.

Die familie het gemeld dat sy in die laaste paar jaar behandeling vir kanker gekry het en ook probleme met hartritmes gehad het.
Sy was twee dae voor haar afsterwe by die kardioloog, wat vir haar weer hartmedikasie voorgeskryf het.

Die Vermaak egpaar was welbekend en geliefd in Middelburg waar hulle vir sowat 14 jaar gebly het.

Tannie Ann het lank by die pakette kantoor van Transnet gewerk en het later geskuif na die elektriese onderhoudskantoor. Oom Salie het by die Transnet elektriese afdeling gewerk.

Ann en Salie Vermaak was onafskeidbaar. Ann is Saterdagoggend oorlede.

Later jare het hulle verhuis na Gauteng en die laaste ruk het hulle saam met hul seun, Salie (jnr) en sy gesin by die Benoni Landbouhoewes gebly.

Al het sy gesondheidsprobleme ondervind, het tannie Ann nog tot die dag voor haar dood by Old Mutual gewerk, waar sy administratiewe werk gedoen en ook opleiding gegee het.

Haar kinders en kleinkinders het hierdie week gese dat sy die mooiste omgeehart gehad het.

“Sy het vir almal gesorg, hulle gevoed en vir hulle gebid. Haar huis en hart was altyd oop. Sy het altyd vir almal tyd gehad. Sy het so ’n warmte en kalmte uitgestraal.”

Hulle onthou ook hoe lief sy vir diere was.

Almal wat Ann en Salie geken het, het gepraat oor die besondere band tussen die twee, wat die Vader altyd eerste in hul lewens gestel het. Hulle sou in November hierdie jaar hul 55ste huweliksherdenking gevier het.

Buiten haar wederhelf Salie, word sy oorleef deur haar kinders, Salie (jnr), Roelof en Antoinette, skoonkinders (wat sy altyd haar eie kinders genoem het), Ria, Chantele en Bertuz, kleinkinders, Clarissa, CJ, Kaylee, Zander, Bertuz (jnr), Markus, Buchanan en Marcel, skoonsuster Martie en swaer, Arthur.

’n Roudiens word more (Donderdag) om 11:00 uit die NG Gemeente, Bonaero Park (Malpensalaan 32, Bonaero Park, Kempton Park) gehou.

• Persone wat nog huldeblyke vir die familie wil stuur, kan dit aanstuur na 072 385 1464.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button