News

Hope Corner bring hoop vir verslaafdes

Daar is hoop vir verslaafdes. Die hoop se naam is: Hope Corner!

Hope Corner vier in Februarie 2025 hul 10e verjaardag en is daar al 862 verslaafdes deur hul deure.

“Die wat skoon kom van hul verslawing by ons, is die een of twee persent waarvan daar gepraat word,” sê Ayesha Snyman, wat aan die stuur van sake staan by Hope Corner, ’n organisasie wat hoop gee vir persone wat verslaaf is.

Ayesha meld dat hulle al van alkoholverslaafdes tot dwelmverslaafde persone gehelp het.
“Ons het al in die verlede probeer om haweloses te help, maar ons het nie sukses met hulle nie. Ons kry hulle jammer en wil help, maar sodra hulle skoon is, kos en klere gekry het, kies hulle maar net weer die strate.”

Verhale van hoop

Die Observer is weer ingenooi in die lewens van ’n groep mense wat tans by Hope Corner is.

‘Hier verstaan hulle jou’

• Die eerste onderhoud is met ’n man wat nie graag sy naam bekend wil maak nie, omdat hy met die hulp van Ayesha en haar span in ’n goeie bestuursposisie by ’n besigheid is.
Hy het eers hulp gekry vir sy kokaiëne verslawing by Oorwinnaars Halfweghuis vir mans en is die laaste paar maande by Hope Corner.
“Ek was 20 jaar verslaaf en het in daardie tyd vier keer bevorderings gekry!”

As gevolg van sy verslawing het hy egter bande met die mense naaste aan hom verbreek en werk hy hard daaraan om weer die stukkies van sy lewe op te tel.
Nie net is hy skoon nie, maar hy het reeds weer kontak met sy familie gemaak.

“By ander plekke is jy ’n nommer, hier verstaan hulle jou. Ek was ’n slegte pa vir my dogter en het die strate en dwelms bo my dogter gekies. Hope Corner het gehelp om my op te bou sodat ek weer onafhanklik op my eie bene kan staan.”

Sewe jaar skoon

• Jacques Geldenhuys was verslaaf aan alkohol en is nou sewe jaar skoon.
Hy bly op die perseel by Hope Corner en alhoewel hy voltyds werk, ondersteun hy Ayesha met hul hulp aan ander verslaafdes.

Elkeen word aanspreeklik gehou vir wat hy/sy doen

• De Lange Badenhorst is nou vyf jaar skoon en is gemeld dat hy 18 jaar verslaaf was aan talle dwelms. “Alles wat hy in die hande kon kry het hy gebruik.”

Ook hy bly op die perseel, waar hy as gekwalifiseerde onderwyser tuisonderrig gee by die pastoriehuis.

De Lange is van mening dat die stelsel so goed werk by Hope Corner, “want elkeen word aanspreeklik gehou vir sy/haar dade. As jy iets verkeerd doen, word dit bevraagteken en reggemaak.”
Hy noem dat hy van sy beste vriende in sy lewe by Hope Corner ontmoet het.

Twee jaar skoon

• Shaun Mthimunye is meer as twee jaar skoon. Hy was verslaaf aan Nyaope (heroïne-mengsel).

Lewe het handomkeer verander

• Neels de Jager is al meer as ’n jaar by Hope Corner en sê hy was verslaaf aan kristal-metamfetamien.
Hy vertel laggend dat hy eintlik kom werk soek het in Middelburg en een aand nie slaapplek gehad het nie. Hy het by Hope Corner geland, wat dadelik agtergekom het hy is ’n verslaafde.

Sy lewe het handomkeer verander en het hy nie net ’n goeie werk nie, maar bly ook in by Hope Corner waar hy hulp verleen.

Dankbaar vir die hulp

• Die 18-jarige Carla Greeff is dankbaar dat sy by Hope Corner hulp gekry het.
“Ek het van 15-jarige ouderdom af gebruik en is aan crystal meth bekendgestel deur ’n kêrel.”
Sy vertel trots dat sy by Hope Corner al geleer het om kos te maak en help ook met los werkies by die kerk.

Vyf jaar skoon

• Zenobia Visagie (39) is nou vyf jaar skoon en meld dat sy “Cat” (Metkatinoon) en kristal-metamfetamien (straatnaam: ‘crystal meth’) gebruik het.
In die tyd wat sy verslaaf was, het haar kinders by haar ma, Brenda Barnard, by Hope Corner gebly.

Sy is dankbaar dat Hope Corner haar ingeneem het.
“Was dit nie vir Ayesha hulle nie, was ek al lankal weer op straat.”

Zenobia is ’n gekwalifiseerde barista en hoop dat sy binnekort weer ’n vaste werk sal kan kry.

Aanbouings

Ayesha meld dat hulle tans besig is om nog ’n dubbelkamer met badkamer aan te bou en dat nog vier storte ook aangebou is.

Een groot familie wat mekaar ondersteun

Almal is dit eens dat hulle soos een groot familie is by Hope Corner.
“Ons kan almal lekker baklei soos familie, maar as een struikel, dan is al die ander daar om hom of haar op te help, saam te huil en weer op te bou. Ek kan staatmaak op elkeen van my mense,” sê Ayesha.

Die Here het nog altyd voorsien

Al is dit nie altyd maklik om almal te help nie en hulle soms sukkel om borgskappe te kry vir die verslaafdes, sê Ayesa dankbaar, “dat die Here nog altyd voorsien het.”

• Pastoor Jamon Snyman (Ayesha se man) doen die geestelike berading op die perseel.

• Vir enige navrae rakende hul werksaamhede, skakel Ayesha by 082 905 3418.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button