Een oomblik het hartjie geklop, volgende oomblik was dit stil
Sonnette Cassell se baba het in haar gesterf terwyl sy angstig gewag het dat 'n noodkeiser gedoen moes word.
Met trane wat oor haar wange loop, vertel sy van die traumatiese gebeure waar haar baba gesterf het: “omdat die hospitaal te lank gewag het om haar uit te haal. Die dokter het gesê ons moet wag, maar toe hulle weer ‘n sonar doen, was daar nie meer ‘n hartklop nie.”
Klein Lianke-Lee Nortjé is op 11 Oktober begrawe.

Daar is gesê dat die Witbank Hospitaal hulle gekontak het en verskoning gevra het.
“Hul jammer sal nie my baba terugbring nie!” het Sonnette snikkend gesê.
Sonette vertel haar hartseer verhaal oor die dood van haar prinsessie
Sy het besluit om haar verhaal persoonlik te vertel.
“Op 30 September het ek gegaan vir my afspraak by die Middelburg Hospitaal om te kyk of my prinsessie nog mooi groei…” Sy was 29 weke swanger.
In die badkamer het sy opgemerk dat daar bloeding is en het die susters verwittig, maar die dokter het gesê dit is darem nie aktiewe bloeding nie.
Sonnette is opgeneem vir waarneming, waar baba se hartklop deurentyd gemonitor is.
Sy onthou hoe een van die dokters die volgende oggend vir haar gesê het dat vyf dokters saam ’n besluit gaan neem oor wat gedoen moet word en dan met haar daaroor sal praat.
“Hulle het my prinsessie se hartjie weer gemonitor.” Daarna het sy aarvoeding gekry en is sy weer gevat na die sonarkamer.
Die ginekoloog het verduidelik dat ‘n noodkeiser gedoen moet word. Volgens haar het ‘n dokter van die Witbank Hospitaal ook met haar gesels en het Sonnette ingestem vir ‘n noodkeiser.
‘n Sonar is nog ‘n keer gedoen ‘en alles was nog reg…’

Nagmerrie begin in hospitaal
Sonnette is per ambulans Witbank Hospitaal toe geneem waar alles in ‘n nagmerrie ontaard het. Die dokter by die Witbank Hospitaal het haar meegedeel dat dit nie nodig is om haar baba uit te haal nie en ‘dat sy wil kyk of ek my prinsessie langer in my kon hou.’
Sonnette het bekommerd gevra of Middelburg Hospitaal se dokter nie kwaad gaan wees as hulle nie haar baba uithaal nie. “Haar woorde aan my was dat hulle nie vir haar kan sê wat om te doen nie en dat hulle fasiliteite baie hoër is as Middelburg Hospitaal.” Vandaar is sy na haar kamer toe gevat.
2 Oktober: Die skok….geen hartklop nie
Die oggend van 2 Oktober was Sonnette in erge pyn en is daar vir haar Panados gegee. Hulle kon geen hartklop op een van die masjiene optel nie. Die dokter het haar na die sonarkamer geneem en meegedeel dat haar baba oorlede is.
Wou dit nie hoor nie
“Dit het gevoel of alles in my daaardie oomblik doodgegaan het saam met haar. Dis iets wat ek nie wou hoor nie. Ek was deurmekaar, kwaad en alles het om my gedraai. Met rukke het ek nie eers geweet wat om my aangaan het nie. Ek het dit nie verwag nie.”
Sy het medikasie gekry om die geboorteproses aan te help en het kort daarna begin pyne kry. “Daar was geen suster by my gewees om my dop te hou nie.”
Voel baba se voetjies
“In die badkamer het ek reeds haar voetjies gevoel uitkom en het haar probeer terughou, omdat ek haar nie in die toilet wou kry nie. Ek het probeer hardloop na die susters toe. Ek het erg pyn gehad en gesê: ‘it is time’, maar sy het gesê: ‘time for what?’ Sy was arrogant en mislik en ek het vir haar gesê: ‘the baby is coming.”
Volgens Sonnette het die suster haar aangesê om te gaan lê en haar ondersoek. “Ek het twee ooggetuies wat gesien het wat gebeur het en hoe sy met my gepraat het.”
Sonnette noem dat sy, terwyl sy pyne gehad het, sonder hulp op ’n rolstoel moes klim.
’n Ander suster het oorgeneem, wat ’n laken oor ’n bed gegooi en opdrag gegee dat sy haar onderklere uittrek. Sonnette is aangesê om op haar sy te lê en het die suster vir haar gesê sy sal nou terugkeer en is uit by die deur.
Trek baba self uit
Sonnette het skielik geweldige pyne gekry en het sy begin druk, waarop haar baba se voetjies uitgekom het. “Haar koppie het nog vasgesit en moes ek haar uit my trek toe ek weer ’n erge pyn gekry het.”
Sonnette sê haar man en ouers het gevra of hulle by haar kan staan. “Sy het vir hulle gesê hulle is nie welkom nie.”
Volgens Sonnette het die suster eers ’n hele ruk later daar aangekom en haar gevra waarom sy nie vir haar gewag het nie.
Die suster het haar gehelp om die naelstring te sny en met die daaropvolgende mediese prosedures en ‘vir my gesê ek moet my toemaak.” Sonnette het gevra of sy haar dogtertjie mag vashou. Aldus Sonnette wou sy eers nie, ‘maar ek het gesê ek soek my kind.”
Haar baba is vir haar gegee en is haar Bman en ouers ingelaat sodat hulle ook die baba kon sien.
Baba in sak gesit
Wat haar ook sal bybly is dat die suster die baba in ‘n sak gesit het, eenkant in dieselfde kamer.
Na ‘n ruk het Sonnette gevra of sy kan opstaan en het hulle ingestem.
“Ek het opgestaan en my skoongemaak. ‘n Ander suster het gesê ek moet my goed self op ‘n rolstoel tel en afstoot na my kamer toe. Terwyl hy geloop het, het die bloed teen my bene afgeloop.”
Sy was perfek
Sonnette kan steeds nie glo haar baba is dood nie. “Sy was so perfek…”
Sonnette en haar ouers sê hulle neem regstappe sodat daar nie weer so iets met iemand anders gebeur nie. “Vroue moet weet dat daar wel hulp is.”
Dankie vir onderesteuning
Die familie bedank elke persoon wat bygedra het vir die begrafniskostes en die mense wat hulle tans ondersteun. Spesiale dank gaan aan eerw. Kokkie Smith (St John Presbiteriaanse Kerk) en Yvonne Pretorius (Doves Begrafnisdienste) vir hul puik diens.
- Die gesondheidsdepartement het tydens ons vorige navraag aangedui dat Sonnette ‘n ernstige swangerskapkomplikasie, naamlik pre-eklampsie, gehad het.
Do you have information on a news story you think we should cover?
Please send an email to our Editor at daleen@mobserver.co.za or phone us on 072 248 3855.
To keep updated and informed on all the latest Middelburg news, visit our official social media pages:
Facebook, Instagram, TikTok, X (Formerly Twitter), and YouTube.
