Ek (Retha Moorcroft) het so geëerd gevoel toe die Observer my vra om ’n boodskap te skryf.
Hoe groet jy ’n dorp met so baie wonderlike mense en herinneringe na 31 jaar? Hoe skryf ek in ’n paar woorde van ’n leeftyd se herinneringe in Middelburg?
Totsiens aan ’n spesiale tuiste
Totsiens aan ’n huis en tuiste waarin my kinders grootgeword het en hulle ook hul wortels hier in Middelburg kom plant het.
Tussen die mure was daar baie liefde en omgee. In die huis het ons gelag, gedroom en ja, soms baklei ook.
Daar was baie lief en ook leed gewees. Maar ons het soveel liefde en ondersteuning ontvang van almal af.
Middelburg se mense gee om
Dit is wat Middelburg so spesiaal maak, die onbeskryflike omgee van die mense.
Ek sê totsiens met ’n groot hartseer, nostalgie en ook gemengde gevoelens, maar ook met ’n opgewondenheid van ’n nuwe begin in Marloth Park. ’n Groot droom wat waar word. Mense wat my goed ken, weet dis nog altyd my ‘best place on earth’. Ek is ’n bosmens.
Ek groet nie net ’n dorp waarin ekself in Hoërskool Middelburg was nie, maar die mense. Almal wat my pad gekruis het, maak nie saak waar nie.
Ek groet ’n dorp, ’n huis, ’n Kerk en omgee-hartsmense.
Julle sal altyd in my hart wees. Die mooi herinneringe neem ek saam as ’n geskenk. Julle bly spesiaal.
Ek sê totsiens aan my vier kinders en ouma se liefste Pikkewyntjie, my hart se punt. My oumensies (met groot respek gesê), elke familielid, hartsvriende en kennisse.
My huiswerker van 30 jaar, Phina. Sy is deel van die familie.
Spesiale vriende het ’n verskil gemaak
Spesiale vriende, daar is net van julle wat soos ’n puisie uitstaan.
Dankie vir elkeen van julle wat deel was van my lewe en ’n verskil gemaak het. Weet net, julle word nie vergeet nie.
Een van my oumensies het dit so mooi beskryf. ‘Ek gaan mý mense mis’.
Kom kuier vir ons!
Julle moet asseblief kom kuier vir my en Marius Venter in Marloth Park!
Ek sê totsiens met ’n knop in my keel en al baie trane wat al gestort het, en wat ek steeds stort terwyl ek uit die dorp uit ry.
Middelburg en sy mense was goed vir my. Al die lag, pret en plesier en somtyds trane. Ek gaan verseker nog baie kom kuier!
Baie seën, liefde, vrede en vreugde vir almal.
