Skote klap in Kanonkop, vrou gewond, kontant en kar geroof
Rowers het vanoggend verskeie sarsies skote gevuur, waartydens 'n vrou gewond en 'n voertuig ook geroof is.
In wat geklink het soos ‘n oorlog, het rowers losgebrand op mense wat te voet agter hulle aan is en is ‘n voertuig ook geroof in Kanonkop.
Polisie en privaat persone met koeëlvaste baadjies het vir meer as drie ure saam met die polisie in bosse langs Proteastraat aan Mhluzi se kant, tussen die Munisipale Magasyn en die brug, na die rowers gesoek.
Die booswigte het met die geroofde voertuig in die bosse ingejaag, waar dit vasgesteek en hulle te voet gevlug het. ‘n Hommeltuig is ook ingespan, maar die digte bosse en riete het die soektog bemoeilik.

Die rowers het net na 10:00 toegeslaan in die parkeerarea voor die Tosca Setrum in Kanonkop.
Die eerste slagoffer, wat anoniem wil bly, sê hy het gestop voor die Tabooz Drankwinkel om voorraad te koop. Hy meld dat hy R65 000 in ‘n plastieksak by hom gehad het.
Die volgende oomblik het twee mans van Proteastraat se kant af op hom afgestorm. Hy kon duidelik sien een het ‘n handwapen en die ander een ‘n geweer (soos ‘n R5 aanvalsgewer).

Hulle het die sak by hom gegryp en is hy, asook sekuriteit en personeel van die Tabooz Drankwinkel te voet agter die rowers aan.
Die rowers het afgehardloop in Proteastraat, links gedraai in Bokmakierie- en weer regs in Impalastraat in.
Op hierdie tydstip het die rowers op die groep mense agter hulle begin skiet.
By die Middelburg Tennisklub was Tanja en Simon Vermaak besig om uit hul maroen Renault Kwid uit te klim om te gaan tennis speel.
Tanja het dadelik uitgespring en op die grond gaan lê toe sy die twee rowers gewaar. Simon was nog besig om uit te klim. “Die wapen was warm wat hy teen my gedruk het. Hy het gesê ek moet gaan lê, of hy gaan my skiet!” het Simon gesê.
Nadat Simon op die grond gaan lê het, het die rowers in hul voertuig gespring en van binne na buite op hul agtervolgers geskiet.
‘n Vrou, wat in Impalastraat bly, het paniekerig op ‘n noodgroep ingeroep: “Help ons! help ons! Hulle skiet op ons! Maak gou, maak gou, asseblief hulle hulle het die ouens hier oorkant ons se kar gesteel!”
‘n Vrou, wat naby die tennisbane bly, het op haar voorstoep gestaan toe die skote begin klap en het gevoel hoe haar nek begin brand.


Sy het vir ander mense, wat op dieselfde perseel bly, geskree hulle moet ingaan want daar is geskiet en sy is raakgeskiet. Met nadere ondersoek is gevind dat een van die koeëls genadiglik net deur haar vel geskraap het.
Daar is egter oral gate in hul afdakke en ‘n gat in ‘n paal op die erf.

Simon en Tanja het dadelik hulp gaan soek en het ‘n privaat noodgroep (wat verkies om anoniem te bly) binne twee minute opgedaag en hulp verleen.
Die voertuig se opsporingstelsel op ‘n Toep (App) is geaktiveer en is die Renault kort daarna in die bosse opgespoor waar daar lank na die verdagtes gesoek is.
Daar word verneem dat daar ook twee skote gevuur is in die bosse, maar dit is onduidelik of dit die polisie of die rowers was wat skote afgetrek het.
Proteastraat is anderkant die magasyn en etlike meters van die brug af toegemaak om motoriste se veiligheid te verseker.

Simon is tans by die polisiestasie, waar hy besig is om ‘n verklaring af te lê oor die gebeure.
Die vyftienjarige Jason-Lee Olivier vertel dat hy tydens die skietery in Impalastraat, 16 skote getel het wat gevuur is. “Ek het opgekyk toe hulle verby ons huis ry en gesien hoe hulle met ‘n wapen skote in die lug afskiet. Dit het gelyk soos ‘n 9mm pistool.”

