News

Verdagte vas na moord op man en aanval op bejaarde ouers op Hendrina plaas

’n Verdagte verskyn vandag in die Hendrina hof na ’n wrede aanval en moord etlike maande gelede op ’n plaas buite Hendrina.

Die polisie het ’n verdagte vasgetrek na die moord op ’n 46-jarige man en die wrede aanval op sy ouers in November 2024, op ’n plaas buite Hendrina.

Daar word verneem dat die polisie die verdagte gisteroggend in Embalenhle (by Secunda) gearresteer het en dat daar reeds ’n bekentenis en uitwysings gedoen is. Hy sal vandag in die Hendrina Landdroshof verskyn. Die verdagte het klaarblyklik voor die moord op ’n buurplaas gewerk.

Die man is verlede jaar op die plaas vermoor en het ’n familielid hom gevind.

Die oorledene se suster het kort na haar broer se moord en aanval op haar ouers vir die Observer gesê hoe swaar die omstandighede vir haar is. Sy het gesê dat haar broer alles vir hul ouers gedoen het.

Ernst van den Berg (bekende boer van die Belfast omgewing), wat bevriend is met die familie, het vanoggend die koerant gekontak en laat weet van die arrestasie. Die provinsiale polisie se mediakantoor het dit pas ook bevestig.

Ernst sê hulle het destyds aanvanklik gedink dat die man wat vermoor is, gesterf het weens ernstige kopbeserings wat hy tydens die aanval opgedoen het. “Ons het eers ná die uitkenning gehoor dat hy twee keer geskiet is met ’n .22 handwapen wat by die buurplaas gesteel is! Hy is in die hart en die long geskiet. Op die toneel kon ons dit nie sien nie.”

Sowat drie maande gelede is ’n voertuig in ’n padblokkade by Tzaneen gestop en is die gesteelde .22 handwapen in die voertuig gekry. Die bestuurder van die voertuig is aanvanklik gearresteer, maar hy het vir die polisie gesê dat hy rylopers opgelaai het, wat uitgespring het toe hulle die padblokkade genader het. Die polisie het in hul ondersoek gevind dat hy die waarheid praat en is hy laat gaan.

Hul ondersoek het hulle egter gelei na Embalenhle, waar die verdagte gisteroggend gearresteer is.

  • Vroeg hierdie jaar het die polisie ’n gesigsamestelling van ’n verdagte uitgestuur, wat positief verbind word met sake, waaronder dié op die man en die aanval op sy ouers.

Lees ook: Man wanted for murder, rape, and kidnapping

Die gesigsamestelling (identikit) wat uitgestuur is na die moord en aanval.
  • Die betrokkenes se name word nie genoem nie, omdat ’n vekragtingsaak ook ondersoek word.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button