News

12 jaar skoon van dwelms – ‘Ek klou vas aan God!’

Monique du Preez herdenk nie net 12 jaar van skoon wees van dwelms nie, sy wil ’n boodskap van hoop bring, wat sy nie self kan gee nie, maar met haar vaste geloof in God, “wat in my werk.” Dit is nie die eerste keer dat die Middelburg Observer oor Monique skryf nie, haar verhaal …

Monique du Preez herdenk nie net 12 jaar van skoon wees van dwelms nie, sy wil ’n boodskap van hoop bring, wat sy nie self kan gee nie, maar met haar vaste geloof in God, “wat in my werk.”

Dit is nie die eerste keer dat die Middelburg Observer oor Monique skryf nie, haar verhaal is wyd en syd gedeel en hoop sy dat haar vorige berigte, “’n paar mense kon help om die regte keuses te maak.”

Lees ook: Vyf vriende het al gesterf

Hierdie onderhoud noem sy ’n ‘opvolg verhaal’ met die hoop dat sy weer ’n paar harte kan aanraak en iemand kan help wat nog vasgevang is in die dwelmhel.

Wys nie vingers nie
Sommer uit die staanspoor meld sy dat alles wat sy sê haar eie ervarings is en dat sy nie vingers na enigiemand wys nie.
“Ek het niemand anders as myself om te blameer vir die foute en slegte keuses wat ek gemaak het nie.”
Monique het op hoërskool begin om dagga te gebruik. “Volgens sommige mense is dit die veiligste, en dis mos cool om ‘in’ te wees.”

Dagga, drank en ‘pret’
Naweke was daar skelm kuiers, wat rook, drink, dagga en ‘pure pret’ ingesluit het. “Jul weet hoe dit gaan, ek vertel vir my ouers ek gaan slaap by die vriendin en sy vertel vir haar ouers sy kom slaap by my en dan glip ons maar uit na die houseparties.”

In matriek, wat sy met onderskeidings geslaag het, was dagga nie meer genoeg nie, “en het ek begin eksperimenteer met Acid.”

Nuwe kringe, meer dwelms
Na skool het sy in nuwe kringe begin beweeg en slaan sy oor na Ecstacy, kokaïne en Cat.

Op 24 ontmoet sy haar eksman, is getroud en is geseën met ’n baba. Terwyl sy swanger was het sy self die dwelms gelos.

Sy het sowat drie jaar later weer in haar slegte gewoontes teruggeval ‘in die greep van die duiwel en raak betrokke met ’n nuwe groep met nog nuwe dinge.”

Raak verslaaf aan heroïne
“Heroïne en rocks was volgende op die lys.” Na haar eerste sakkie heroïne het dit vir haar gevoel asof sy doodgaan en is sy meegedeel dat sy nog een moet gebruik om beter te voel.
“Dit was juis daardie tweede bag wat my totaal en al gehook het. Van daar af kon ek nie meer sonder dit nie.”

Haar lewe het uitmekaar geval en het sy letterlik álles verloor, haar man, haar kind, haar huis, klere en meubels en het sy op straat geland.
“Dis winter, dis koud, jy moet plan maak vir ’n fix elke vier ure anders onttrek jy!”

Heroïne nie meer genoeg nie
Kort daarna was die rook van heroïne ook nie meer genoeg nie en het sy ook begin spuit.
“Later was die spuit alleen ook nie meer goed genoeg nie en het die rocks begin vloei tussendeur. Spuit een bag, rook een rock.”

Sere het om haar mond begin vorm van pype deel en het sy so maer geword dat sy 35kg geweeg het.

Op dié foto was Monique op straat, met sere om haar mond van dwelmpype wat gedeel word.

“Ek was nie meer mens hier nie, ek het myself verloor want hier diep binne het ek niks meer gehad om voor te leef na ek alles en almal verloor het nie.”
Mense het haar gespot en uitgelag, ander het haar gevloek. “Ek het gesteel, gelieg en bedrieg, enigiets om net ’n fix te kry.

Selfmoordpogings
Sy het talle kere haar eie lewe probeer neem, want sy het gevoel sy het niks om aan vas te klou nie.
Soms het sy tot vier sakkies op ’n keer gebruik, ‘n ander keer twee pakke slaappille gedrink, maar elke keer in die hospitaal wakker geword.
“Ek weet dit was die Here se werke…dit is nie vir my om te besluit nie.”

Probeer self skoon kom
Sy het probeer herstel in ’n ander dorp, maar sy het net weer teruggeval. “Die eerste sewe dae van die ontrekkings is regtig die vieslikste ding wat ek ooit kon beleef. Jou hele liggaam is seer, selfs tot in jou geraamte, elke spier, jy gooi op, geen beheer oor jou maag, koue sweet, koors, hallusinerings, soms stuipe, dis rerig bitter erg.”

Lewensmoeg kom sy by Oorwinnaars uit
Sy was nog besig om weereens almal te belieg, “toe lieg ek myself in ’n ondersteuningsgroep in.” ’n Vriend het haar uitgebring by die Oorwinnaarsgroep. “Ek was so bitter moeg, sielsmoeg, ek kon net nie meer nie.”
Hulle het haar die pad na die Here gewys. ’n Lid het haar selfs geborg om te gaan vir rehabilitasie.

“Tussen die kerk, die oorwinnaarsgroep en die rehabilitasie het hulle my lewe reggeruk deur my verhouding met God ten volle te herstel.”
Die eerste vier dae was die swaarste, maar met mediese hulp het en almal se ondersteuning het dit begin beter gaan. “Ek kan jul almal wat betrokke was nooit genoeg bedank vir alles nie.”

Genees na kankerselle verwyder is
Na haar program by die sentrum, moes sy gaan vir ’n operasie om kankerselle te verwyer. Die operasie was suksesvol en was daar geen verdere kankerverspreiding nie. “Weereens ’n getuie van hoe wonderlik God is.”

Haar lewe is weer op koers
Sy onthou hoe ds. Francois Kruger vir haar ‘n gemeubileerde woonstel gekry het en sy kort daarna werk gekry het as aktetikster by ‘n prokureursfirma waar sy agt jaar werksaam was. “Hulle het my 100% ondersteun.”

’n Rukkie daarna het sy haar kind teruggekry. “Dit was die beste dag van my lewe om na al die jare se seer, te hoor hoe my kind vir my sê: ‘kom Mamma, kom ons gaan huistoe.”
Kort daarna het sy haar tweede man, Marius du Preez, ontmoet en is hulle in November verlede jaar getroud. Haar jongste kind is in 2020 gebore.

Monique en Marius du Preez.

Hulle het intussen verhuis na die Wes-Kaap om ‘n nuwe lewe vir hulle en die kinders te skep. “Ons harte was bitter seer om Middelburg en ons werke te los, almal het soos familie geraak, ons vriende, groot einas, maar so vat ons toe die lang pad aan.”

Lewenslesse is geleer
Sy glo die dinge wat met haar gebeur het, het haar lewenslesse geleer.
Monique het weer vir ’n ruk by ‘n prokureursfirma gewerk en het daarna ‘n vryskut aktebesigheid begin.

“Dit gaan goed met met my, my gesondheid, my huwelik, my kinders. Dit hou my jonk en gesond en fiks.”

Raad aan verslaafdes
Monique se die raad wat sy kan gee aan ander verslaafdes is dat ondersteuning die grootste vangnet is. “Niemand gaan weet dat jy ondersteuning nodig het as jy nie praat nie! Praat met ’n dominee, ’n berader, ’n vriend of vriendin, enige persoon as jy moet, jy weet nooit wie God op jou pad stuur en net dalk kan help nie! Sluit aan by groepe en woon sessies by!”

Die belangrikste
Wat vir haar die belangrikste is: “Klou met alles in jou vas aan God se hand en moet nie laat gaan nie! Hy sal vir jou deurbraak gee as jy net glo en vertrou en vashou aan Sy beloftes. Verander jou kringe, people, places and playgrounds.”

Sy sê jy moet ook ’n gesonde leefstyl handhaaf. “’n Gesonde liggaam gee ’n gesonde verstand.”

Die groot vraag: Hoe bly sy skoon?
Monique meld dat sy steeds ondersteuning het van haar man en kinders, familie en vriende.
“Ek kyk nie meer terug nie, dit was die ou ek, en ek het ’n tweede kans gekry, ’n derde kans is daar nie en ek het nie nog ’n recovery in my nie.”

As sy terugkyk na sekere dinge, wil sy graag iemand help, want sy kan haar in hul skoene voorstel.

“God is sterker as my verlede en geheue en kan ek net bid dat God die regte woorde in my mond sal sit om te kan help waar ek kan.”

Dankie
Daar is baie dankbaarheid in haar hart. “Ek wens ek kon elkeen se naam noem, maar daar is net te veel, julle weet wie julle is. Blessings vir elke liewe een van julle”.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button