News

Moontlik dieselfde Kees wat toertjies gedoen het, kuier weer in Aerorand

Die bobbejaan wat gister in Baviaanskloofstraat in Aerorand gesien is, het vanmiddag in Paardebergstraat gaan kuier.

Daar is weer ‘n bobbejaan los in Aerorand en bestaan die vermoede dat dit dieselfde Kees is wat bykans drie jaar gelede in ‘n hok gevang is.

Die bobbejaan het gister oor ‘n palissadeheining in Baviaanskloof geklim en het vanmiddag op ‘n dak geklim in Paardebergstraat.

Kees loer vinnig oor die kant van die dak. FOTO: Verskaf.

“Ek glo dit is beslis weer hy as ek kyk na hoe sy pote hang,” het Deon Cornelius (van uBhetyan Wildsplaas) vanmiddag gesê.

“Ek sal weer ‘n hok vir hom gaan uitsit, maar ons moet eers weet waar hy in die aande slaap.”

In Desember 2023 was die hele Aerorand op hol met Kees se kind wat nie net inwoners nie maar ook hul honde en katte die hasepad laat kies het. Die bobbejaan het van erf tot erf gespring, op dakke gekuier en homself gehelp aan van die troeteldiere se kos.

Nadat hy met die hok gevang is, het die snaaksste ding gebeur, die bobbejaan het begin toertjies doen in die hok! Dit het die vermoede laat ontstaan dat hy dalk iewers mak aangehou is.

Die bobbejaan het egter ernstige ‘n wond aan sy regterpoot gehad en sy linkerpoot het gehang.

 

Nadat die bobbejaan deur ‘n veaarts behandel is, is hy weer in die natuur laat gaan, maar in Januarie 2023 was daar weer ‘n bobbejaan in Kanonkop gesien.

Toe Deon destyds gevra is of die bobbejaan moontlik terug gekom het opsoek na sy huis het hy gesê dat dit ’n sterk moontlikheid is. Daarna het ons dorpsbobbejaan vir lank verdwyn, totdat daar gister weer ‘n bobbejaan in Aerorand opgemerk is.

Die bobbejaan wat in Desember 2022 in Aerorand rondgehol en later gevang is. Die vermoede bestaan dat dit dieselfde bobbejaan is wat weer in die area rondhardloop. FOTO: Observer argief.

Deon doen ‘n beroep op mense wat die bobbejaan sien, om hom te skakel en ook dop te hou in watter rigting die bobbejaan gaan sodat hy die hok kan gaan uitsit. Hy kan gekontak word by 061 588 3714.

Mense moet onder geen omstandighede die bobbejaan self probeer vang, vir hom probeer kosgee of hom jaag nie, want dit bly ‘n gevaarlike wilde dier.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button