News

Bruggie toe omdat trokke kortpad vat, brug weer in sy maai ry

Laagwaterbruggie toe weens eenvoudige rede.

Voertuie ry sedert die naweek weer oor die laagwaterbruggie agter die Kees Taljaard Stadion, nadat gefrustreerde motoriste ’n tweede maal gedurende die naweek die reuse klippe wat aan weerskante van die bruggie gepak is om voertuie uit te hou, weggeskuif het.

Verlede naweek is dieselfde gedoen en die klippe is toe weer deur die munisipaliteit voor die brug se ingange gepak.

Die munisipaliteit sal vandag weer die klippe terugskuif sodat motoriste nie oor die brug kan ry nie.

Daar is verlede week ontevredenheid oor die werk aan die bruggie deur die DA se Kanonkop wyksraadslid Helda de Klerk, en haar Dennesig kollega Johann Dyason uitgespreek.

Volgens hulle vertoon die werk aan die bruggie nie netjies nie, en is ’n deel van die bruggie geteer, terwyl die betonopvulling waar die pad weggespoel het, nie geteer is nie.

Daar skort ook afrondingswerk, volgens hulle.

Dit is verlede week by die raad se portefeuljekomitee vir infrastruktuur bespreek, met Dyason wat as voorsitter van die komitee dien.

Die munisipaliteit het egter intussen aan Dyason bevestig dat die werk op standaard is en die bruggie veilig is vir verkeer.

Geld vir ‘netjiesmaak’ is daar ook nie.

Die brug word egter toe gehou vir een eenvoudige rede: trokke.

Dyason sê dat die munisipaliteit opgemerk het, dat weens die Meyerstraat padsluitings, en die trokke wat nou deur die dorp en Kanonkop moet ry, van die trokdrywers kortpad vat oor die brug om verkeersknopings te vermy.

Dit kan nie toegelaat word nie sê Dyason.

“Dit is die vinnigste wat die werk aan die brug ongedaan gemaak sal word,” waarsku hy.

Volgens die padagentskap (SANRAL) sal werk aan Meyerstraat teen Donderdag voltooi wees.

Hopelik word daar by dié spertyd gehou, nadat SANRAL verlede week werk moes staak weens ’n skielike reënbui wat die dorp getref het.

Werk kon nie voortgesit word weens die nat toestande nie.

“Sodra Meyerstraat oopmaak, word die bruggie oopgemaak,” waarborg Dyason.

Werk aan die bruggie kon eers na die nuwe begroting in Julie ingetree het, voortgesit word.

Rondom Desember was die begroting totaal uitgeput, en was daar eenvoudig nie geld om die brug te herstel nie.

Dyason vra motoriste om asseblief geduldig te wees, en nie die klippe weg te skuif, vir opportunistiese trokdrywers om die brug te beskadig nie.

Dit kan gevolglik deur verdere, onnodige sluitings van die bruggie lei as herstelwerk weens trokskade benodig sal word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button