‘Hoenderdief’ gevang, plaaslike henne kekkel van verligting
'n Muskeljaatkat is gevang nadat hy 'n hele paar keer hoenders 'gesteel' het in Sentraal.
Maljan tussen die hoenders, oftewel ’n jong muskeljaatkat wat gemaai het onder die hoenders, is veilig gister gevang en ons dorp se henne kan weer ‘n bietjie asemhaal!
Die muskeljaatkatmannetjie is in ’n hok gevang in Sentraal, waarna hy gevat is na die Middelburg Dierehospitaal.

By dierehospitaal ondersoek
Dr. Soné Pretorius het hom van kop tot tone ondersoek en vir buiten ’n paar skrape waar hy dalk slaags geraak het met ’n kwaai hen of kapokhaan, was hy perdfris en gesond. Vandaar is hy na die Wildlife Paws rehabilitasie- en opleidingsentrum by die Birds of Prey Sentrum in Dullstroom geneem.


Kuier nou op Dullstroom
Me. Nicky Horn, wat al 22 jaar deel is van die sentrum, sê die muskeljaatkat het gisteraand by hulle aangeland en omdat hy ’n nagdier is, sal hulle hom vanaand weer fyn dophou. As alles reg is, sal hulle so gou as moontlik met die Mpumalanga Toerisme en Parke Agentskap (MTPA) onderhandel oor waar en wanneer hy losgelaat gaan word (dit sal beslis nie naby huise wees nie!)
Waar het alles begin?
Die muskeljaatkat het die afgelope paar maande gereeld vir hom ’n sappige hoender kom uitsoek by Arnold Meyer en sy vrou, Driekie Vermaak se hoenderhok in Hoopstraat.
Driekie vertel dat hulle gewonder het wat die hoenders so vang. “Hy het elke keer net die kop afgebyt en die binnegoed gevreet en die res net so gelos.”
Hulle het aanvanklik gedink dat dit ‘n meerkat of ‘n rietrot kon wees wat so toesak op die hoenders. Toe hulle egter spore kry wat lyk soos dié van ‘n kat, het hulle dadelik besef dit moet een of ander dier in die katfamilie wees.

Driekie meld dat haar ma, Marietjie Coetzer (77) eintlik in beheer is van die hoenders en was hulle baie teleurgesteld nadat die een na die ander hoender die afgelope paar maande verdwyn het.
Driekie se skoondogter, Lelani, het besluit om ‘n vanghok uit te sit sodat hulle die skuldige kon vastrek. Die hoenderhok is mooi toegemaak en is daar ‘n sappige stukkie hoender daagliks in die vanghok gesit.
Daar is ook nagvisie-kameras opgesit om te kyk of hulle nie die hoendervanger daarmee op heterdaad kon betrap nie.
Byna twee weke het verloop en het dit begin lyk of kat se kind dalk nie weer gaan opdaag nie.
Eergisternag het die kameras egter die gespikkelde muskeljaatkat opgetel en het Marietjie vir Driekie (wat bedags werk) gister laat weet dat die muskeljaatkat in die vanghok sit.

Alhoewel hulle skade gely het met die hoenders wat gevang is, meld Driekie dat hulle diereliefhebbers is en dat sy dankbaar is dat die muskeljaatkat een van die dae by ander groener weivelde kan gaan jag.
Diere kuier gereeld hier
Middelburg is bekend vir sy wilde diere wat letterlik al oral in die dorp kom kuier het.
Oudredakteur, Tobie van den Bergh (wat nou as vryskutjoernalis steeds deel is as van die Observer) het vanoggend ‘n storie geskryf oor ‘n zebra wat doodgery is en al die diere wat al in ons dorp te siene was.
- ‘n Koedoebul het vanoggend op die N11 aan die buitekant van ‘n lyndraad rondgehardloop. Dit is steeds onseker of die bok toe wel ingekom het by die plaas.
