Gebeur daar nog wonderwerke?
Kry vir Frans Allers by TWK toe ons oor sy pa, Frans (senior), gesels.
Hy is met longkanker gediagnoseer. Die dokter se prognose: “Ses maande”.
Dit is nou vier jaar later.
Piet Etsebeth skakel ’n maand of wat gelede oor Nancy, sy vrou, wat met kanker gediagnoseer is.
Toe hulle teruggaan vir die opvolgbesoek, om te bepaal watter behandeling Nancy moet kry, is die spesialis verstom: “die kanker is weg”.
Die bewyse is daar, swart op wit, vir die ongelowige.
Oor die jare het die Middelburg Observer gereeld berig oor “wonderwerke”:
“Wonderwerke gebeur wel – winkel vol engele – winkeleienaars ruim op na petrolbomme” skryf Gerhard Rheeder.
“Wonderwerke tydens kapingsdrama”.
“God is goed, God is groot, sê man na It’s Time”.
“Ma pleit vir hulp vir wonderwerk-baba”.
“Wonderwerk-vrou sterf tien jaar later”.
“’n Wonderwerk tussen skote wat klap”.
Dan skryf Daleen Naude: “Met ‘n gapende wond aan sy keel het die 11-jarige Derik Potgieter deur ‘n geploegde land gehardloop om hulp te gaan soek.
En dan later:
“God se genade is groot; ons is oorweldig met dankbaarheid – Hy het ons begenadig om Derik se lewe te spaar,” het sy ma, Marilie, gesê.
“Marilie sê as sy terugdink aan die gebeure, sien sy in haar geestesoog hoe ‘n Hoër Hand oor haar kind se keel gehou is. Derik was by sy oom, Thys Ellis (Marilie se swaer) op Bothaville, waar sy ouers hom sou oplaai om saam te gaan na Murraysburg.
“Die oggend van 3 Julie 2025 het hulle ‘n boer, wie Thys ken, gevra of Derik met sy veldmotorfiets op die plaas kan ry.
“Met die indraai op die plaas, het Derik gesien dat daar ‘n draad, wat gespan is om beeste se weiding te reguleer (‘n enkeldraad, skouerhoogte) aan die linkerkant is en hy het regs gedraai. Daar was egter nog ‘n draad, wat hy net te laat gesien het.
“Gelukkig het Derik nog na die anderkant gekyk, anders sou die draad sy keel heeltemal afgesny het. Die valhelm het ook baie gehelp.”
Die draad het hom op die ken en keel getref en hy het agteroor van die motorfiets afgeval.
Thys het met hom na die Lenmed Wilmed Hospitaal in Klerksdorp gejaag, waar die sny aan sy keel met steke (sewe binne en sewe buite) geheg is.
“Toe die dokter instap, het sy gesê dat dit eintlik onmoontlik is, maar dat ál die hoofslagare gemis is!”
Buiten die diep wond aan sy keel, was daar talle ander faktore wat tot ernstige beserings of sy dood kon gelei het. In hierdie onmoontlikheid het hulle nóg ‘n wonderwerk gesien. Die skanderings het gewys dat sy slukderm gekneus is.
“Hy het só wonderbaarlik gou gesond geword!
“Marilie sê hul kind is ‘n lopende wonderwerk wat ‘n ongelooflike getuienis met almal sal kan deel.
“Derik het ‘n amazing storie wat hy kan vertel. Ons kan nie stilbly nie, ons moet die wêreld vertel van die genade van God se grootheid.”

Drie weke voor ’n plaasaanval het Eep Coetser se vrou, Surina, groot op hulle sitkamermuur geskryf: “Jeremia 29:11: “ Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester,” spreek die Here, “gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee.”
Waar hy op die grond vasgepen was met ’n rowerskoen wat sy kop vaspen, het hierdie woord op Eep afgekyk.
Die gesin is aangeval deur 13 mans, gewapen en almal met balaklawas op.
Hulle het uitgeroep: “Where’s the safe, where’s the safe?”
’n Rower het langs die kluis gestaan maar kon dit nie sien nie.
“Dit was asof die Here hulle verward en blind gemaak het.”
Toe hulle nie meer as die R2 500 kry wat in die huis was nie, het ’n rower ’n haelgeweer gevat en gedreig: “I’m gonna shoot you now”.
Toe hy die sneller trek het die haelgeweer net “kliek” gemaak.
Eep se aanhoudende gebede het ’n rower woedend laat uitroep: “Stop praying to your God!”
Die haelgeweerkolf het teen sy kop geklap.
“I’m gonna cut your throat now.”
Eep het vir die meshou gewag.
Die rower het gesteek.
Die mes het sentimeters van sy nek gestop.
Hy het weer gesteek.
Weer het Iemand die meshou gekeer.
’n Derde keer!
Wéér…
Tevergeefs!
Die rower het die mes woedend eenkant toe gesmyt.
Eep het weer gebid: “Here, stuur iets of iemand om ons te verlos van die bose.”
Een van die rowers het skielik gegil: “Buyani madoda, buyani madoda!” Kom manne, kom.
Binne sekondes was die huis stil.
Drie dae nadat die gesin hulle verhaal met my gedeel het, saam met die hoof van Laerskool Kanonkop, Riaan Kruger, gaan ontbyt eet.

Hy onthul: “In my kantoor by die skool is Jeremia 29:11 geskryf, ek weet watter gedagtes ek aangaande julle koester…”.
Dikwels vlam “wonderwerke” jare later weer op.
Lukas Erasmus het vertel hoedat ’n buitebeheer brand op ’n plaas sy gesin paniekbevange in verskillende rigtings laat hardloop het.
“Dit knetter, rook en dreun.
“Vlamme lek hoër as die bome.”
In die chaos het sy dogtertjie uitgeroep: “Pappa hy wen, ons moet bid!”
En daar bid Lukas: “O Heer vergewe my. In my angs het ek nie eers aan U gedink nie. Ek is nie die profeet nie. Hy het gebid en vir lank het dit nie gereën nie, toe bid hy weer en toe reën dit. Heer ek is net ou Lukas, maar nou vra ek U dat dit reën.
“Die volgende oomblik sous dit…”.
Gebeur daar nog wonderwerke?
