Ma wil keer dat nog kinders soos haar dogtertjie in Meyerstraat doodgery word
Om te voorkom dat nog kinders in Meyerstraat sterf, sal Janeke Naude aanhou veg dat daar iets gedoen word aan die jaagduiwels in dié straat.
Op pad om blomme te gaan neersit by die kruis waar haar sewejarige dogtertjie drie maande gelede gesterf het, is die wonde weer oopgeruk toe daar op bykans dieselfde plek weer ‘n ongeluk was.
Janeke Brink is op 17 Junie deur ‘n trok doodgery toe sy met haar fiets gery het saam met haar broers in Meyerstraat en sê haar ma, Janeke Naude, dat “dit nog baie rou is.”

Sy het gisteraand gou gery na waar die kruis geplant is om weer blomme te gaan neersit. “Ek probeer om die pad te vermy sedert die ongeluk en ry net daar as ons blommetjies gaan neersit.”
Janeke het yskoud geword toe sy sien dat daar in presies dieselfde area waar haar dogtertjie doodgery is, ‘n ongeluk was. Sy het verneem dat dit ‘n tref-en-trap was, maar dit was ‘n ongeluk waar twee voertuie in mekaar vasgery het. Daar was nie ernstige beserings nie.

Wat haar ontstel, is die feit dat trokke en voertuie geweldig vinnig in Meyerstraat ry. Sy meld dat ál die kere wat sy blomme by die kruis gaan neersit het, talle voertuie en trokke verbygejaag het.
“Vir my voel dit asof niemand omgee nie. Vir so twee of drie dae na Janeke se dood is daar so ‘n bietjie stadiger gery, maar daarna was dit maar weer net so erg!”
Sy wil ‘n groter kruis opsit waar Janeke gesterf het. “Ek wil vir hulle sê: Hallo! Iemand is hier dood! Ek probeer ‘n stem wees om nog ongelukke te voorkom. Ek wil aanhou veg dat iets gedoen word, al is dit die laaste ding wat ek in my lewe doen!”
Janeke het in ‘n Facebookplasing gesê dat dit voel asof daar niks gedoen word deur die verkeersowerhede of raadslede nie.
“Ek het al tot Sanral (nasionale padagentskap) gekontak, wat gesê het dat ons ‘n vergadering moet hê met hulle, maar dit is ook alweer twee maande gelede!”
In haar Facebookplasing meld sy: “Hoekom word niks gedoen nie? Hoekom word dié wat iets doen, ook stilgemaak? Die bloed is op hulle hande…….”
Sy het haar ook sterk uitgespreek oor ‘n voorval sowat twee weke gelede waar sy ‘n hawelose betrap het wat teen die kruis urineer. Janeke het met hom geraas en verduidelik dat haar dogtertjie daar gesterf het, maar hy het haar net stom aangekyk en weggeloop. “Hy was so dronk of hoog, dat hy net vir my gekyk het en niks gesê het nie!”
Janeke het weer gepleit dat die owerhede daadwerklik werk moet maak daarvan om die jaagduiwels In Meyerstraat vas te vat, hetsy met spoedwalle, spoedkameras of gereelde optredes.
