
Jannik Wessels het die hart van ’n leeu, ’n leeuehart.
Die jong Middelburgse bokser skram nie weg van groter, ouer en beter boksers nie.
Boks is nie vir sissies nie.
Dit is ’n ritueel.
Die inweeg.
Die hande wat netjies toegedraai moet word.
Die opwarm.
Die stap kryt toe.
En dan klim jy alleen in die kryt.
Net jy en die man oorkant jou.

Hy wat jou onskadelik wil stel.
Wat jou met een hou droomland toe wil stuur.
Dit is hier waar mense nie boks verstaan nie.
“Float like a butterfly, sting like a bee,” soos Muhammad Ali gesê het.
Die kuns is in die eerste plek om nie raakgeslaan te word nie.
Dit is nie soos gemengde gevegskuns wat deesdae so gewild is, waar jy kan skop, stoei en boks nie.
Dan kry jy ’n geveg soos Dricus du Plessis teen Khamzat Chimaev waar die twee vegters vir vyf rondtes mekaar op die grond lê en beklou.
Boks is klassiek.
Daarom is Jannik se geveg teen die Suid-Afrikaanse amateur cruisergewig kampioen, Chris Lewis, nie sommer so hierjy-vertoning nie.
Al het hy met punte verloor, het hy durf gewys deur net die geveg, wat by Zandfontein plaasgevind het, te aanvaar.
Lewis is 26 jaar oud en was drie kilogram swaarder as Jannik.
Dit was Lewis se laaste amateur geveg, volgens Jannik se pa Henk, voordat hy in die professionele kryt klim.
@middelburgobserver Jannik Wessels, a local boxer from Middelburg, faces champion Chris Lewis, in what is Lewis’ last amateur fight.