News

Die kerk en die sirkus is langs mekaar…

Die storie van die rugby voorry, sir Herbert Baker en die gesteelde teerpad.

Die kerk en die bar is langs mekaar…

’n Sent vir die kerk…

…en ’n rand vir die bar

Dit was Groep Twee wat gesing het van die kerk en die bar, ahummm, ahummm…

Deesdae kan dit selfs verander word na “die kerk en die sirkus is langs mekaar”.

Sirkusartiste in aksie. Foto: Verskaf.

Of selfs; “die kerk en die sekswinkel is langs mekaar…”.

Op Bellville was daar op ’n stadium ’n kerk langs ’n sekswinkel en nog een langs ’n kroeg.

Op Cullinan is daar in die skadu van die ou Anglikaanse kerkie ’n sirkus aangebied.

Voordat lesers die Aksie Morele Standaarde op ons sit, die kerkie op Cullinan is eintlik ’n mooi storie.

’n Storie van ’n groot voorry wat vir Suidoos-Transvaal in die skrums gesak het (wat deesdae meer soos Kersvader lyk met sy lang wit baard) en ’n kerkie wat deur sir Herbert Baker ontwerp is

Jan Erasmus het in 1984, 12 wedstryde vir Suidoos-Transvaal gespeel.

Hy is deesdae die eienaar van die ou Anglikaanse Kerkie op Cullinan.

Die kerkie is deur sir Herbert Baker ontwerp, in 1904 gebou en die hoeksteen is in 1908 gelê.

Die pragkerk van binne gesien.

Baker was vanaf 1892 tot 1912 ’n vooraanstaande argitek in Suid-Afrika en het ook die Uniegebou ontwerp.

Toe die kerkie in 2018 in die mark kom, het Erasmus dit aangeskaf en langsaan ’n perseel opgerig, waar Mom’s Grill deesdae bedryf word.

Daar was al selfs ’n sirkus in die gebou aangebied waar narre en sweefstok artieste mense  vermaak het.

Voordat die kerkie van hande verwissel het, het ’n biskop dit “ontheilig”.

Sedertdien waak die joviale ou rugbyspeler oor die kerkie soos ’n stut oor ’n skrumskakel.

Die kerk.

“Die kerkie is nog soos in 1909, die houtvloere word gereeld met olie gesmeer en ons het alles net so behou.”

Maar soos ander kerke het hy al meer as net in die skrums gesak met die land se misdaad.

“Het jy al gehoor ’n teerpad word gesteel?”

Oaklaan, wat voor die kerkie en restaurant verby loop, is geteer. Een oggend is al die teer bymekaar gemaak en weggery.

Toe Cullinan sakelui navraag doen by die Tshwane stadsraad moes hulle uitvind die teerpad is gesteel!

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button