Diewe ruk hekmotor met versterkings en al uit
Die hekmotordiewe skrik nie vir versterkings oor hekmotors nie!
As daar versterkingsmeganismes om hekmotors aangebrinig word, dan gebruik die hekmotordiewe eenvoudig ‘n koevoet om dit uit te breek.
Marcél de Villiers was verstom toe hy vanoggend buite kom en sien dat sy splinteruwe hekmotor met versterkings en al by hul huis in Njalaweg (Dennesig) gesteel is.
“Mense moenie te lig slaap nie, want ons het ‘n versterking opgesit en hulle het dit steeds uit die grond uit geruk.”

Hul huurder het gesê dat die honde geweldig geblaf het net na middernag (00:30). “Ons het egter niks gehoor nie en toe ons vanoggend wakker word was die hekmotor weg!”
Die booswigte het eers die vlekvrye staallemme bo-op die muur uitgebreek en oorgeklim. “Daarna het hulle seker met ‘n koevoet die motor se een ankerbout met geweld uit die sementblok getrek.”

Hy het verneem dat daar van die nuwe hekmotors is wat gekoppel kan word aan jou huis se alarm.
Marcel sê daar is egter selfs opsporingstelsels wat in die motors ingebou kan word.
Hy glo die diewe spits hul toe op die nuwer modelle. Sy voorstel is dat mense die hekmotors onaantreklik maak.
“Ek gaan my straatnommer daarop sit en dan sommer ook ‘n paar verfkolle opsit. Dan sal dit nie so waardevol lyk vir die diewe nie.”
Hy het die diefstal by ‘n sekuriteitsfirma aangemeld, wat hom meegedeel het dat daar laasnag omtrent vier hekmotors gesteel is, waarvan hulle weet. Daar is egter gesê dat daar moontlik baie meer kan wees.
- As jou hekmotor gesteel is in die laaste week, stuur vir ons ‘n WhatsApp boodskap met wanner en waar dit gesteel is na 072 248 3855 (foto’s en videos kan ook gestuur word).
- In die laaste jaar is al tientalle hekmotors gesteel en het die Observer onlangs ook ‘n video geplaas wat wys hoe vinnig en maklik die diewe dit steel.
- Selfs kerke word nie ontsien nie en is daar by twee kerke hekmotors gesteel.
