Bagasiebakmoord: Twee in tronk, drie nog in hof
Die drie oorblywende beskuldigdes in die nou reeds bekende bagasiebakmoord het vanoggend vlugtig in die hof verskyn.
Die verhoor van die oorblywende drie beskuldigdes in die omstrede bagasiebakmoordsaak is vanoggend uitgestel na aanstaande jaar.
Jan Jordaan, Kobus Pretorius en Emele Jacobs het vlugtig in die Middelburg Streekhof verskyn.
Hul verskyning volg na die moord op Danie Maritz in die middernagtelike ure van 15/16 November 2023 by ’n skrootmetaalbesigheid in Middelburg.
Jordaan en Pretorius word aangekla vir moord en is steeds in aanhouding. Jacobs word aangekla rakende die gebeure ná die moord. Hy het etlike maande na die gebeure vir die eerste keer saam met die ander beskuldigdes in die hof verskyn. Hy is nie in aanhouding nie (uit op waarskuwing).
Na die moord is Danie se oorskot in Angelique Appelgryn se voertuig se bagasiebak gelaai, waarna dit aan die brand gesteek is.
Alex Grobler, wat ook aanvanklik een van die beskuldigdes was in die saak, het verlede jaar in ’n pleitooreenkoms met die staat sy aandadigheid in die gebeure erken. Hy was nie by tydens die moord nie en het later, op Appelgryn se aandrang (volgens sy getuienis), Danie se lyk in die bagasiebak gelaai en die voertuig aan die brand gesteek. Grobler is tydens die pleitooreenkoms vyf jaar tronk toe gestuur.


