’n WP vleuel, ’n Blou Bulle slot, ’n akteur en tweeling sussies…
Voeg hulle bymekaar en jy kry ’n Munga span (Nee, nie Moerse nie, Munga).
Nou goed, dit is ook nie sommer sulke tweeling sussies nie, die een is ’n driekamp kampioen en die ander een ’n televisie aanbieder.
Boonop het die slot en een sussie albei ’n verbintenis met Middelburg.

FOTO: Verskaf.
Ken julle die name Breyton Paulse, Bakkies Botha, Hammie Wessels, Rika en Magda Niewoudt?
Die vyfmanskap is ’n dodelike kombinasie wat die Toks&Tjops span uitmaak, wat aan die Munga equippe bergietswedren deelneem, vanaf 26 November tot 1 Desember, vanaf Bloemfontein tot in Wellington.
Die wedren staan bekend as “The toughest race on earth” en deelnemers word fisies en geestelik tot die uiterste beproef oor die duisend kilometer.
@middelburgobserver VIDEO: Toks@Tjops se span oefen kliphard vir die Munga fietswedren vanaf Bloemfontein na Wellington.
’n Foto waar een van die fietsryers van moegheid in ’n grondpad opgekrul lê en slaap, versinnebeeld die wedren se uitdagings.
Dit is nie net die meer as 200 kilometer wat elke spanlid moet aflê, wat fietsryers se uithouvermoë tot die uiterste beproef nie, maar erge wind, klippe, sinkplaat paaie, om in die nag rigting te hou, dors en honger.
Toks&Tjops, Middelburg se Care Riders en die VlokSkopstigting se spanne is besig met reuse liefdadigheidsprojekte en elke trap gaan vir ’n goeie doel.

Maar die Enforcer op ’n fiets?
Moenie ’n fout maak nie.
Daai groot liggaam wat deur teenstanders gevrees is, lyk deesdae of hy aan die Biggest Looser deelgeneem het, slank soos Victor Matfield.
Tydens die Rooiwal-fietswedren, drie weke gelede, kon ander fietsryers nie glo Bakkies kan ’n fiets so trap nie en dit was boonop in wind en reën.

En as hulle pad gemaak het vir die groot seun om verby te kom, het hulle waarskynlik te veel YouTube-videos gekyk waar hy Justin Marshall met die kop bykom.
Bakkies is natuurlik ’n oud HTS Middelburg leerling.
En dan is daar Meneer Wawiele, Breyton Paulse.
Die Westelike Provinsie rugbyheld het deelnemers aan die RideJoburg Sondag oor 97 kilometer verstom, met die wyse waarop hy die bulte uitgevlieg het, vir ’n tyd van 2:47.
Hy was in sy speeldae as Springbok bekend vir die wawiele wat hy gemaak het om ’n drie te vier.
Wanneer dinge rof gaan in die Munga kan die Toks@Tjops span staatmaak op Hammie Wessels.
Jy kyk net vir die man se gesig dan wil jy lag.
Dié akteur en broer van Robbie Wessels, kan nie net vir humor sorg in die Munga nie, maar sorg dat die swaarkry met lekkerkry klaargekry word.

En dan is daar die twee sussies.
Rika Niewoudt is aanbieder by Toks@Tjops en haar sussie, Magda, is ’n top driekamp atleet en fietsryer.
Magda was voorheen aan Hoërskool Middelburg verbonde en het die Middies Sport Spesifieke Instituut by die skool begin.
Sy eindig eerste in haar ouderdomsgroep 35-39 tussen die elite vroue tydens die RideJoburg in ’n tyd van 2:39.
En indien iemand nog twyfel aan die rateltaaie tweeling sussie.
Toe sy Dinsdag geskakel word vir ’n onderhoud, is sy alweer op pad na Maleisië vir ’n internasionale driekamp byeenkoms.
Maar wat van die 2024 Munga equippe kampioen span, die Middelburg Care Riders?
Daar is drie Care Rider spanne met Span Een wat die meeste ervaring het.
Hulle bestaan uit Johan Moller, Andre Brandmuller wat al drie Munga wedrenne aangedurf het met verlede jaar se 775km onvoltooide solo Munga, Johan Odendaal, PC Nell en Corné Ferreira, wat elk drie Munga’s agter die blad het.

Ferreira en Nell het Sondag die RideJoburg net oor die drie ure voltooi.
Die Munga kan dalk vir die twee spanne oor liefdadigheid gaan, daar word lekker gespot en grappies gemaak.
Daar is egter manne en vroue in wie se are wedywering in dik strome pomp.
Verwag ’n Moerse stryd, skuus Munga-stryd.
