Severiano Ballesteros, Lee Trevino, Bernhard Langer, .Jack Nicklaus, Johnny Miller, Ray Floyd….
En toe kom daar uit Afrika Mark McNulty, David Frost en my gunsteling, die omstrede Fulton Allem.
Desember was miljoen dollar gholf.
Sun City en Sol Kerzner.
Glans en gholf.
In 1981 was ’n miljoen dollar ver van Suid-Afrikaners se verwysingsraamwerk.
’n Miljoen dollar?
Jy moes ’n leeftyd werk om soveel geld te verdien.
Van die eerste toernooi af is asemrowende gholf gesien.
Die eerste twee toernooie se wenners is eers na valbyl putjies beslis.
Gary Player, Jack Nicklaus, Lee Trevino, Johnny Miller en Severiano Ballesteros het onder andere in die eerste toernooi gespeel.
Die Amerikaner, Miller en Spanjaard, Ballesteros, het ’n ekstra nege putjies aangedurf, met die Amerikaner wat met die louere weggestap het.
Die glans van die miljoen dollar
Suid-Afrika was hierna verslaaf aan die glans van die miljoen dollar.
Elke stukkie nuus is verslind.
Daar is selfs berig oor Nick Faldo se gholfjoggie, Fanny Sunesson, se kapperjolle op die dansbaan by Sun City.
Die land was vir vier dae aan hulle televisiestelle vasgekluister.
Eerste Afrikaan om die toernooi te wen
In 1982 was daar 10 spelers wat meegeding het, wat die gewilde Raymond Floyd ingesluit het.
Hy en Craig Stadler het sake oor ’n ekstra putjie uitgespook met Floyd wat met die wentjek weggestap; het.
Mark McNulty was ’n Zimbabwiër maar is soos ’n Suid-Afrikaner aangehang. Hy het die eerste Afrikaan geword om die toernooi te wen met David Frost en Fulton Allem wat dit ook later vermag het.
Dié drie was verskriklik gewild en het daarvoor gesorg dat die Nedbank-toernooi se aanhang die hoogte in skiet.
Nou is dit 2025
Daar is ’n goeie rede waarom Suid-Afrikaners weer vanaf Donderdag, 4 tot 7 Desember, voor hulle televisiestelle vasgevang gaan wees; Aldrich Potgieter.
Op Middelburg word hy nog Allies genoem.
Sy ma Adele is ’n oud Hoërskool Ben Viljoen leerling.
Sy pa Heinrich was baie bekend in rugbykringe op Middelburg.
Die gesin is baie geliefd in die omgewing.
Aldrich is een van “ons”.
Daar is ook ’n ander rede
In sy eerste jaar as nuweling in die strawwe Amerikaanse PGA-reeks het hy die FedEx uitspele gemaak.
Sy eerste PGA toernooi gewen.
Die jongste speler geword om ’n sub 60 rondte in ’n PGA toernooi te speel.
Heinrich sê uit Mosselbaai, waar die gesin die afgelope paar weke uitspan: “Aldrich se voorbereding vir die Nedbank-toernooi het baie goed verrloop. Dit is die eerste keer in drie jaar wat hy so bietjie van ’n afseisoen gehad het”.
Net ou Allies
En dalk die grootste rede waarom elke hou van die boerseun toegejuig gaan word, is omdat hy maar steeds “net ou Allies is”.
Die goedgemanierde seun wat op ’n tyd ook op Laerskool Middelburg se skoolbanke gesit het.
Ons is bankvas agter Allies, skuus, Aldrich.
