News

Roxy, die hond wat voor die kar inhardloop en die onthou

"Rig weer vir haar ’n houtkruis op langs die N4-hoofweg" vra leser

Roxy van die houtkruis.
Roxy Koster.
Dit was 33 jaar gelede toe ’n houtkruis vir Roxy langs die N4-hoofweg geplant is.
’n Houtkruis om haar te onthou.
Die houtkruis het vir jare op die walle gestaan waar die twee bane van Johannesburg en Pretoria af saamvloei.
Totdat ’n veldbrand die houtkruis in vlamme laat opgaan het.

Verlede week wonder ons oor Roxy

Ons wonder of die herinneringe aan haar net soos die houtkruis weggebrand is.
En ons vra hoe lank hou mense se “ons sal jou nooit vergeet nie”.
Nooit?
En toe is daar ’n stortvloed van “ons onthou Roxy”.

Woman in a red jacket smiling joyfully, pointing forward. Her expression conveys happiness and playfulness, creating a lively atmosphere.
Roxy Koster in haar gunsteling rooi. FOTO: Argief.

Soa Oberholzer van Wyk skryf:

“Roxy was my beste vriendin, ek was saam met haar in die motorongeluk. Dit was 33 jaar gelede”.
By navraag brei sy verder uit:
“Ek en Roxy het agter gesit. Haar sussie en haar vriend voor. Hy was die bestuurder. Dit was in die aand en ’n groot rottweiler het voor ons ingehardloop. Die bestuurder kon nie eers rem nie. Die wiel wat die hond getref het, het gebreek en die kar het skeef getrek en toe gerol. Almal is uit die kar geslinger.

Roxy is opslag dood

Ek het my bekken op twee plekke gebreek en was ’n maand in die hospitaal. Haar sus was ook ernstig beseer, maar die bestuurder het niks oorgekom nie.”
’n Berig in die Middelburg Observer sê Roxy (35) het by Challenge Engineering gewerk en die kar is bestuur deur Tobie van der Vyver.

Haar suster, Dinkie van Dyk, is lank in die Muelmed Hospitaal behandel en Soa in die Middelburg Hospitaal.

A newspaper article titled "Vrou dood" reports on Roxy Koster's death in a car accident on a South African highway. It includes a small black and white photo of a woman with short hair. The text describes the unfortunate accident details, including a collision with a dog.
Die berig wat in die Middelburg Observer verskyn het in 1992. FOTO: Middelburg Observer Argief.

 

Maar wie was Roxy?

Suzette Kruger skryf: “Tannie Roxy was een dierbare mens. Sy en my ma, Suzie Nel, was beste vriendinne. Die ongeluk was op 7 Junie 1992, die dag voor my verjaardag.”
Kobus Nel het voorgestel dat daar weer ’n kruis vir Roxy opgerig word. “Sy was ’n goeie en dierbare mens.”
Uit Nieu-Seeland skryf Charlett Fletcher: “Roxy was my ma, Dinky, se suster. Sy was ’n tweede ma vir my en ’n awesome mens. Ek mis haar geweldig baie.”

Roxy is nooit vergeet nie

Teen ’n yskas is daar al jare ’n foto van haar.
Arlene Steyn Koster se herinneringe aan haar ma het nie in vlamme opgegaan nie.
Op haar yskas is ’n foto van haar ma.
Die ma wat so dol was oor rooi, “daar is min vroue wat rooi kon dra maar sy kon, rooi lippe, rooi rose”, sê Arlene.

Haar onthou lê diep

“Die laaste keer toe ek uit die kar geklim en vir haar gewaai het, sal ek nooit vergeet. Ek was elf jaar oud. Ek het vir haar gesê ek gaan by ’n maatjie oorslaap.”
Haar pa, Nico, het haar wakker gemaak en van die ongeluk vertel.
“Hy wou die seer van my weghou, hy het my vertel van tannie Soa, van die man wat die kar bestuur het, maar het eers later vertel my ma was die enigste een wat in die ongeluk oorlede is.”
Met haar begrafnis was die kerk stampvol, mense het buite gestaan om die diens te volg.
“My ma was ’n spesiale mens. Sy was altyd daar om ander te help. Ek kon nie glo sy het so groot impak op mense se lewens gehad nie, sy het by mense se harte ingeklim.”

Bewoë en geskok

Toe sy die berig oor haar ma verlede week lees was sy bewoë en geskok, sê sy.
“Ek kon nie glo mense dink nog aan haar wat so lank weg is nie. Al verloor jy ’n ouer op so baie jong ouderdom vergeet jy nie. Memories gaan dalk weg, maar sommige goed sal jy nooit vergeet nie.”
Roxy se kruis is deur vlamme vernietig.
Maar nie die herinneringe aan haar nie.
“Dankie dat jy haar teruggebring het.”
Teruggebring het!

Lees ook: Roxy se kruis langs die besige N4

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button