News

Roxy se kruis langs die besige N4

Hoe lank hou ons nooit?

Daar reg langs die N4 het ’n houtkruis gestaan met ’n naam op: ‘Roxy’.
So ’n mooi naam, Roxy!
Eens op ’n tyd iemand.
Iemand van wie vriende, dalk familie, gesê het, “ons sal jou nooit vergeet nie, ons gaan vir jou ’n kruis plant.”
Onthou dit was Roxy Koster, wat daar waar die N4 vanaf Pretoria in verskeie bane verander, in ’n motorongeluk gesterf het.

Dit was baie-baie jare gelede

Die houtkruis is weg.
Vernietig deur ’n veldbrand.
Kan nie anders as om elke keer aan Roxy te dink, wanneer ons daar verby ry nie.
Roxy van die houtkruis.
Kan nie anders om te dink aan die verganklikheid van die mens nie.

Die mens is net ’n asemteug

Sondag preek ds. Carel Venter, “die mens is net ’n asemteug”. Hoeveel keer sê ons by ’n begrafnis, “ons sal hom nooit vergeet nie”.
Hoeveel keer sien ons geliefdes ontroosbaar by ’n begrafnisdiens?
’n Paar dae later loop hulle met ’n nuwe liefde rond.
Hoe lank hou ons nooit?
Hoeveel berigte het joernaliste al geskryf, “hy sal nooit vergeet word nie”.
Nooit?

En ons onthou?

Ds. Carel vertel met die Oujaarsdiens is geliefdes wat daardie jaar oorlede is, se name afgelees, net voordat die laaste tydsame kerkklok gebeier het.
Dan is daar gesing: Lied 570: “Ure, dae, maande, jare skuif soos skadu’s stil verby. Niks sal met die loop van jare onveranderd hier kan bly. Soos die gras, so is ons dae; soos ‘n blom verwelk die mens: U stel na u welbehae aan ons leeftyd hier ’n grens!”
Ons lewens skuif soos skadu’s stil verby!
En ons onthou?
Dit gaan soms oornag in vlamme op.
Soos Roxy se kruis.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button