Gewilde Suidoos kaptein en agsteman Hendry van Tonder oorlede
Hendry was lid van die span wat roemryke oorwinning oor WP behaal het
Hendry van Tonder, een van die beste agstemanne wat Suidoos-Transvaal opgelwer het, is gisteraand oorlede.
Hy het gewag op ’n leweroorplanting, nadat hy die afgelope paar jaar ernstige gesondheidsprobleme ondervind het.

Ondanks sy siekte het hy steeds groot moeite gedoen om reünies van oudspelers op Nelspruit by te woon.
Hy het van 1978 tot 1990 in 96 wedstryde vir Suidoos-Transvaal uitgedraf en 26 drieë gedruk vir ’n totaal van 104 punte.
Laat in sy loopbaan het hy ook vir Noord-Transvaal gespeel, voordat ’n ernstige besering sy loopbaan beëindig het.
Hendry was nie net ’n gewilde kaptein van die Suidoos-Transvaal span nie, maar ook van Middelburg Rugbyklub.
Hy was naas die Springbok Lofty Nel een van die beste agstemanne wat die provinsie opgelewer het.
Toe ek drie jaar gelede my beste Suidoos span van alle tye gekies het was hy een van die plaasvervangers. Die span was: Harry Muller, Boerpens Strydom, Tommy Symons, Chris Botha, Kallie Grobler, Koos Nel, Rupert Hector, Lofty Nel (k), Polla Fourie, Terence Moll, Johan Spies, Daan Badenhorst, Fanie Vermaak, Richard Cooke, Jan Loubser. Plaasvervangers: Louis Pietersen, Gert la Grange, Dirk Pretorius, Jerry van Rooyen, Hennie Coetzee, Abrie van Wyk, Hendry van Tonder.
Hy het egter in die roemryke wedstryd toe Suidoos-Transvaal die Westelike Provinsie op 4 Junie 1983 in ’n Lionbeker wedstryd met 24-19 geklop het op sewe flank gekies met Jorrie Jordaan op agsteman en Terence Moll die ses flank. Hulle het daardie dag die WP span met die Springbok lostrio van Nick Mallett, Theuns Stoffberg en Rob Louw ore aangesit.
Sy oud spanmaats het met hartseer op sy afsterwe reageer.
Sy flankmaat by Middelburg Rugbyklub, Piet Cloete, skryf: “Baie jammer om te hoor. My groot vriend en flank klubmaat by Middelburg en Suidoos. Het hom destyds van Kemptonpark gewerf om by Columbus te werk as tegnikus. Rus in vrede my vriend.”
Oud voorry Jan Erasmus skryf: “Rus in vrede Cappie.”
Die oud Suidoos en Witbank vleuel, James Young skryf: “Altyd hartseer om ’n rugbymaat te verloor. Mag ons Hemelse Vader se troos en Sy vrede oorvloedig oor die vriende en familie rus”.
Hendry se afsterwe kom net ’n week nadat die oud Witbank Rugbyklub spelers, Adri Prinsloo en Maans Bierman, oorlede is. Prinsloo het ook vir Suidoos uitgedraf.
Begrafnisreëlings sal later bekend gemaak word.
