Die geskiedenis van plattelandse rugby gaan teen ’n skrikwekkende pas verlore…trui vir trui…trofee vir trofee…
Onvervangbare rugbytruie en baadjies van die Springbokke Wynand Claassen en Polla Fourie, is van die kosbare rugbyskatte wat die afgelope paar jaar gesteel is.

Fourie, wat hierdie jaar 80 jaar oud geword het, was die eerste Springbok rugbyspeler wat Suidoos-Transvaal en Middelburg opgelewer het. Sy Springbok trui is geraam en het bokant die kroeg by Middelburg Rugbyklub gehang. Die trui is intussen gesteel.
Die klub se afrigter, wat al jare by rugby betrokke is en oud polisie kaptein, Henk Wessels, sê hulle het nie ’n benul wat van die trui geword het nie. Fourie het in 30 wedstryde vir Suidoos diens gedoen en was ook kaptein van die span. Hy het in 1974 een toets vir die Springbokke teen die Ierse en Britse Leeus gespeel.
Die boerseun wat vanaf 1991 tot 2002 in 182 wedstryde vir Suidoos-Transvaal en die Pumas uitgedraf het, Francois Rossouw, was ook die eerste Suid-Afrikaanse Skole speler wat Middelburg opgelewer het. Sy SA Skole trui, waarop sy pa Dolf so trots was, het teen ’n muur by Middelburg Rugbyklub gehang. Die trui is soos die van Fourie uit die klubhuis gesteel.
Die Springbok kaptein, Wynand Claassen, se kosbare 1981 Springbok baadjie, wat hy gedra het tydens die meelbomtoer na Nieu-Seeland, is uit ’n glaskas by Hoërskool Middelburg gesteel. Hy was ’n voormalige hoofseun van die skool en kaptein van die Bokspan wat in die meelbomtoetse teen die All Blacks gespeel het. (Betogers het meelbomme tydens ’n wedstryd vanuit ’n vliegtuig op spelers gegooi).

Hy het sy 1981 Springbok trui vir die skool geskenk. “Dit is ’n baie rare trui en gesog onder versamelaars,” het hy Dinsdag gesê.
Maar dit was nie net sy Bokbaadjie wat by Hoërskool Middelburg gesteel is nie, maar ook ’n trui van Tommy du Plessis, Springbok skrumskakel en nog ’n trui van Francois Rossouw. Albei oudleerlinge van die skool.
’n Trui wat waarskynlik meer waardevol was en ook verdwyn het, is Claassen se groen eerstespan nommer vier trui.
“Ek het van Durban af op gevlieg om met die eerstespan van Hoërskool Middelburg voor ’n wedstryd in die kleedkamer te praat. Na die motiveringspraatjie het ek my eerstespan trui van 1968 aan die hoof, Chris Viljoen, gegee. Hy is met die trui oor sy skouer daar weg.”

Claassen sê die trui het groot sentimentele en versamelaars waarde maar toe hy later by Viljoen navraag doen, was die trui weg. Vier truie van oud Suidoos kaptein, Richard Cooke, waarvoor enige rugby versamelaar sy lippe sal aflek, het verdwyn. Hy het 112 keer vir Suidoos-Transvaal uitgedraf.
Cooke sê hy het die truie aan rugby administrateur, Arrie Myburgh, gegee om uitgestal te word, maar toe hy probeer uitvind wat van die truie geword het, was hulle weg.
Myburgh sê hy het die truie aan die oud Mpumalanga Rugby-unie president, Hein Mentz, gegee. Mentz ontken dit. “Ek het net my eie geraamde Suidoos trui en truie van my seuns Henno en MJ,” het hy laat weet. Hy het vir die Gryses op vleuel uitgedraf.

Hierdie is maar net die punt van die ysberg.
Die afgelope paar jaar het verskeie rugbyklubs op plattelandse dorpies verdwyn. Saam met die klubs se verval het gedenkwaardighede soos trofeë, baadjies, truie, rugbystewels en notules weggeraak.
Wat eens die hart van ’n dorp was waar bakkies Saterdae om die veld parkeer het, het niks oorgebly nie. Pawiljoene hang soos geroeste geraamtes aan ’n laaste stukkie staal. Waar die rugby tannies eens op ’n tyd kerrie-en-rys vir besoekende spanne voorgesit het, slaap nou haweloses.
Belfast het een van die mooiste klubhuise in die land gehad met ’n duikende speler, in kunsvorm, binne teen ’n muur. Daar het net ’n murasie van die klubhuis oorgebly.
Gelukkig is een van die kosbaarste truie wat in die rugbyklub gehang het gered.
Die All Black meanie en voorry, Billy Bush, het vir Belfast Rugbyklub in Christchurch in Nieu Seeland gespeel. Hy het een van sy rugbytruie vir Belfast Rugbyklub in Suid-Afrika geskenk. Gawie van Rensburg, wat vir jare by Belfast betrokke was en losskakel gespeel het, het die trui vir televisie kommentator John van Rensburg gevat, wat dit in sy rugbymuseum uitstal.
Intussen het Mike Hattingh begin om Belfast dorp se geskiedenis te bewaar, deur ’n museum by die NG Kerk in te rig. Die geskiedenis van Belfast Rugbyklub word ook daar uitgestal. Dit blyk die enigste oplossing te wees; gemeenskappe wat self hulle geskiedenis bewaar.

Suid-Afrikaanse rugby statikus, Eddie Grieb, sê sedert 1995 het rugby unies wat ophou bestaan het, se geskiedenis verlore gegaan. “Niemand weet wat het van hulle gedenkwaardighede geword nie.” Daar was unies soos Noordwes-Kaap, Noordoos-Kaap, Stellaland, Oos-Vrystaat, Verre Noord-Transvaal en Noord-Natal, wat nie meer bestaan nie. “Pietersburg Rugbyklub het byvoorbeeld toegemaak. Gelukkig het ’n oudspeler al die memorabilia uit ’n stoor gered.” Grieb het saam met Heinrich Schultze ’n boek oor Suidoos en Stellaland se geskiedenis gepubliseer.
Die uitvoerende hoof van Mpumalanga Rugby-unie, Marius Janse van Rensburg, sê die provinsie se geskiedenis lê hom na aan die hart en hy het al dokumente van Myburgh en oudspeler Gert la Grange gekry, wat hy bewaar.
