NewsSport

Wie onthou die witkop agtsteman van Noord-Transvaal?

Wanneer jy saam met Ray Mordt en Louis Moolman gespeel het bewaar jy jou trui. Oud Suidoos kaptein desperaat om waardevolle truie weer terug te kry.

Wie onthou die witkop agsteman van Noord-Transvaal, Johan Marais?
Ray Mordt, die sterke derduiwel wat die drieë teen die All Blacks ingeryg het?
Groot Louis Moolman wat in die bloeitydperk van Noord-Transvaal die slot was?
Wahl Bartmann met sy blomkoolore in die Transvaal en Springbok trui?

Die man met die dodelike skopvoet wat vir die Westelike Provinsie op losskakel uitgedraf het, Robbie Blair?
Meneer Bestendig, Noord-Transvaal heelagter Johan Heunis?
Witkop voorry van die Bokke, Ockie Oosthuizen?

Wanneer jy saam met sulke ysters gepeel het bewaar jy jou trui soos goud. Wanneer jou provinsie die trui wil bewaar, oorhandig jy hom met ’n swaar hart.

Maar jy gee hom, want jy glo dit is vir ’n goeie doel.

Richard Cooke se, onvervangbare B-Bonde trui is weg. Foto: Verskaf.

Dit is presies wat met die Suidoos-Transvaal kaptein, Richard Cooke, gebeur het. Hy het in 112 wedstryde vir Suidoos gespeel, waaronder die 1983 Lionbeker kragmeting teen die Westelike Provinsie wat die Gryses met 24-19 gewen het. Cooke het vier waardevolle en onvervangbare truie vir die Mpumalanga Rugby-unie geskenk om uitgestal te word. Een is die Transvaalse Bonde teen die Res van Suid-Afrika trui.

Verskeie van die land se beste spelers het vir die Bonde span uitgedraf, met die oud Bok voorry, Hannes Marais, die spanbestuurder. Die wedstryd het op 18 Junie 1983 plaasgevind met Johan Marais die kaptein.

Vier truie is aan rugby administrateur, Arrie Myburgh, oorhandig. Myburgh sê hy het die truie aan die destydse president, Hein Mentz, gegee.

Mentz ontken dit.
En nou is die truie weg.

Die ander drie truie wat ook gesoek word is Cooke se 1981 Springbok proewe trui, Suid-Afrikaanse Platteland trui en sy Transvaal vyftiental trui. Cooke is so desperaat om die truie terug te kry dat hy, ’n skets geteken het met die truie se kleur en ontwerp.

Die gewilde Suidoos-Trasvaal kaptein, Richard Cooke het ’n skets gemaak in ’n poging om die verlore truie te identifiseer.
Die gewilde Suidoos-Trasvaal kaptein, Richard Cooke het ’n skets gemaak in ’n poging om die verlore truie te identifiseer.

Verskeie ander waardevolle baadjies en truie van onder andere Springbok Polla Fourie, Bok kaptein Wynand Claassen, Springbok skrumskakel Tommy du Plessis en Suidoos losvooorspeler, Francois Rossouw, is die laaste paar jaar gesteel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button