NewsSport

Die krat wat ’n skatkis van herinneringe geword het

Willem Smit se dokumente vertel rugby se verhaal, toe spelers net R2 verdien het.

Ry op 4 Februarie 2022 vroegoggend na Belfast vir Willem Smit se begrafnisdiens. Groot Willem wat saam met Johan van Rensburg ’n skrikwekkende slotpaar vir Belfast Rugbyklub was.

Het onder die groot bome gestop en gewag vir die diens om elfuur te begin. Een na die ander bakkie het langs my gestop. Willem se ou klubmaats. Manne wat deur ander spanne gevrees is by die veld met die lang bome.

Het deur die oop karvenster gehoor hoe roep hulle staaltjies op oor ou Willem. Later vra een: “Is dit nie daai ou van die koerant nie?” Nog een antwoord: “Onthou julle ons wou hom altyd gebliksem het”.

Het uit die kar geklim, nader gestap, en gevra: “Wil julle my nogsteeds bliksem?” Ons het lekker gelag. Daar by ou groot gees Willem Smit se begrafnis uit die NG Kerk. Ja, Willem was ’n verskrikking op ’n rugbyveld. Maar Willem het ook ’n ou klein hartjie gehad.

Dinsdag kom laai oud losskakel, Gawie van Rensburg ’n krat vol dokumente by my af. Willem se rugby korrespondensie en aandenkings. Dit is deur sy seun Danie oorhandig vir veilige bewaring.

’n Rugbylewe in ’n krat.

Suidoos-Transvaal rugby se geskiedenis sedert sy ontstaan in 1969. Klubs se geskiedenis sedert 1965.

Laatmiddag word die lêers een vir een deurgewerk. ’n Skatkis van rugby hoe dit 60 jaar gelede gespeel is, gaan soos die rooi see voor my oop. Daar is selfs ’n blou getikte kennisgewing van die 15 Januarie 1969 spesiale vergadering in die Carolina Hotel.

Gawie van Rensburg
Gawie van Rensburg. Foto: Verskaf.

Die geboorte van Suidoos-Transvaal, die Mpumalanga Rugby Unie van vandag. ’ n Spesiale komiteevergadering is daarna op 7 Februarie 1969 in die Carlton Hotel op Witbank gehou. Sekretaris Robert Brand het die kennisgewing uitgestuur.

Hoe rugby op die platteland agteruit gegaan het, kan uit die dokumente afgelei word. Op ’n stadium het Hendrina, Ogies, Douglas, Premier Myn, Witbank Gevangenis, Zonderwater, Machadodorp, Highveld en Arnot, almal klubs gehad. Daar was ook ’n Phoenix Rugbyklub.

Ja-nee, dit was maar tye waar rugby rof en onbeskof gespeel is. Belfast se Piet van Wyk en Arnot se ene Meintjies is deur president, Flip Coetzer, ingeroep en oor die kole gehaal “oor toeskouers wat in bedwang gehou moet word”.

Ai, en hoe verskil die miljoene wat spelers vandag verdien, nie met 1966 nie?

Flank Robert Honeyborne het R3 en later R2 gekry om provinsiale proewe te speel in Springs. Voorry Brian Clarke het ook ’n hele R2 verdien.

Dieselfde jaar word ’n brief aan Hoërskool Ben Viljoen gestuur, gelukwensing met die verowering van die Administrateursbeker en Hoërskool Generaal Hertzog skenk R5 aan Witbank Rugbyklub. Witbank toer ook na Durban. “Elke speler het R10 bygedra terwyl die klub R60 bewillig het, wat miskien bietjie suinig was. Elke speler het R4 vir reisgeld gegee, die hotelkoste was R8.50 per persoon.” Daar word genotuleer dat die span met ses motors gereis het. “Die bestuurders was Clarke, Landman, Bolton, Groenewald, Le Roux en Ralph Grant. Laasgenoemde verdien ’n spesiale woord van dank.”

Wat het hoenderhenne met rugby te doen?

In een van Willem se dokumente is daar R27 aan CJ Lodewyck betaal vir 10 geslagte henne. (Wonder of die skeidsregters daai jare met ’n hen omgekoop kon word?). By die Athlone Hotel is R10 spandeer op “snacks” en R18 op ses dosyn bier, een dosyn koeldrank en “kroeg”.

Wie onthou nog al hierdie provinsies? Foto: Verskaf.

Van die land se bekendste rugbyname word in die dokumente genoem, waaronder Alex Kellerman, sekretaris van die Suid-Afrikaanse Rugby Raad, dr Danie Craven Meneer Rugby homself en dr Fritz Eloff, president van Noord-Transvaal.In ’n lêer met “Subunie” op die voorblad wens dr Eloff vir Frik du Preez en Cora Dirksen geluk met hulle verkiesing vir die Springbok span vir die toer na Skotland en Ierland.

Daar sal verdere onderhandelinge met Mpumalanga Rugby-unie plaasvind om die dokumente veilig te bewaar vir geslagte wat kom.

Willem het sy lewe aan rugby gewy.

Nooit het hy seker geweet sy krat sou ’n skatkis van herinneringe word nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button