KYK: Vrou in fisiese struweling met sekuriteit by nuwe hospitaal
Ernstige klagtes oor beweerde nalatigheid en onmenswaardige behandeling by die nuwe King Nyabela Hospitaal in Middelburg is formeel aan verskeie gesondheidsowerhede voorgelê.

Op videomateriaal hoor ’n mens hoe kwaad ’n vrou is nadat ’n sekuriteitsbeampte by die King Nyabela Hospitaal haar selfoon by haar probeer afvat het nadat sy ’n video begin neem het. Sy beweer sy het dit gedoen omdat ’n dokter haar nie wou help nie.
@middelburgobserver Video footage shows an altercation between a woman and a security guard at King Nyabela Hospital in Middelburg. According to the woman, the guard attempted to take her cellphone after she started recording when she was allegedly not assisted by a doctor in the Casualties Unit. KingNyabelaHospital, Middelburg, HospitalCrisis, PatientRights, HumanRights, Accountability, MiddelburgObserver
’n Paar dae later het ’n bekende inwoner gesterf ure nadat ’n dokter klaarblyklik geweier het om haar op te neem.
Die hele Middelburg gemeenskap het in afwagting uitgesien na die opening van die nuwe hospitaal, want daar is geglo dat dié hospitaal beter dienste sal kan lewer.
Die nuwe gebou met sy nuwe toerusting het egter nie die klagtes laat ophou nie!
Personeel moet verantwoordelik gehou word
Inteendeel, een man het nadat ’n vrou oor die naweek gesterf het, uitgeroep: “Maak nie saak hoe die gebou lyk nie, dis steeds dieselfde personeel! Hulle moet begin verantwoordelik gehou word vir wat daar aangaan!”
Die Middelburg Observer het in die afgelope paar dae ‘n toenemende aantal klagtes ontvang rakende die standaard van sorg, pasiëntbehandeling en infrastruktuur by die hospitaal. Die klagtes is net so aan talle departemente oorgedra vir ondersoek.
Die mees onlangse en ernstigste klagte hou verband met die afsterwe van ’n vrou, wat huis toe gestuur is nadat daar, volgens ooggetuies, in ongevalle vir haar vriende gesê is: “Ons neem net noodgevalle op.” ’n Paar ure later het sy gesterf.” Breedvoerige beriggewing daaroor kan gesien word op die voorblad en bladsy twee van vandag se uitgawe van die Middelburg Observer.
Daar is ook kommerwekkende toestande in die Ongevalle-afdeling beskryf, insluitend vuil toilette, bloedbevlekte toerusting, water wat oor vloere loop, ’n tekort aan funksionele rolstoele en ’n gebrek aan hulp deur personeel.


Nie enigste klagte nie
Dit was egter nie ’n geïsoleerde klagte nie.
Me. Jacky Sinden sê dat sy die aand van 31 Desember 2025 met verwagting daarna uitgesien het dat sy voor 2026 aanbreek gehelp sou word by dié hosptiaal nadat sy haar oogbank oopgeval het terwyl sy saam met haar kinders gespeel en geval het.
Vriende het haar hospitaal toe geneem.
Harde musiek in Ongevalle
Daar gekom was sy verstom oor die klipharde musiek wat gespeel het, maar gedink dit is dalk maar omdat dit die oujaar is wat hulle ook wil vier. Sy was die enigste pasiënt en het met die personeel aan diens laggend ’n grappie probeer maak deur te sê dat sy hoop sy is voor die aanbreek van 2026 tuis om saam met haar kinders die nuwejaar in te gaan.
Volgens haar het ’n persoon by die ontvangs haar toegesnou dat sy “eers die volgende dag gehelp gaan word” en is aangesê om op ’n bankie te gaan wag.
Bang vir steke, skakel man oorsee vir ondersteuning
Omdat sy bang was vir die steke-prosedure wat sou volg, het sy haar man, wat op daardie stadium in Ierland was, per video-oproep geskakel en gevra dat hy haar sal bystaan deur op die lyn met haar te bly. Nadat sy ’n hele ruk gewag het, het die dokter haar ingeroep.

“Sy het letterlik die bloeddrukmasjien net om my arm gesit, toe sy sien dat my man op die lyn is. Sy het woedend omgedraai en gesê ek moet die oproep beëindig. Ek het probeer verduidelik dat ek net wil hê dat hy my ondersteun terwyl ek steke kry. Sy het egter alles net so gelos en geskree: ‘Then I will not f…n help you!‘ en uitgestap.”
Oorbluf dat nie gehelp is nie
Me. Sinden het oorbluf opgestaan van die bed af, want sy het geweet die wond moet skoongemaak word en sy moet steke kry. Op daardie stadium was haar geduld ook op. Sy het haar selfoon gegryp, haar videokamera aangesit en geskree: “There is the doctor that did not want to help me!”
Die videomateriaal hoe sy in ’n fisiese struweling met ’n sekuriteitsbeampte betrokke raak nadat hy die selfoon uit haar hand uit probeer ruk het. Sy het daarna geskree: “You don’t touch my phone, I am allowed to take videos! Don’t touch me!”
Op die videomateriaal kan ’n mens sien hoe sy gevloek word en kan dit weens verstaanbare redes nie gepubliseer word nie (die vloekwoorde is uitgehaal).
Twee dae later, nadat die privaat dokters weer oopgemaak na die nuwejaar het, het haar man vir haar geld oorbetaal en het ’n dokter die wond weer oopgemaak, skoongemaak en sewe steke ingesit.
Nie antwoorde na klagte nie
Me. Melinda Fourie se onderbeen is verlede jaar in Julie 2025 afgesit in die Witbank Hospitaal weens gangreen en is die gat waar dit afgesit is, oop gelos. Teen November verlede jaar was die wond steeds nie toegemaak nie.
Alhoewel hierdie klagte nie gebeur het by die King Nyabela Hospitaal nie, is dit dieselfde personeel wie sy elke keer moes gaan sien om te hoor wanneer die gat toegemaak gaan word en of sy weer verwys kan word Witbank Hospitaal toe. Die Observer het in November die provinsiale gesondheidsdepartement gevra vir kommentaar rakende die kwessie. Tot vandag toe nog het ons nie antwoorde gekry nie.
Verstandelik gestremde jong man in en uit hospitaal
Willem Esterhuizen was die afgelope weke herhaaldelik in en uit die King Nyabela Hospitaal ná ’n enkeloperasie (by Witbank Hospitaal) wat eers twee jaar ná ’n ongeluk in Oktober 2025 gedoen is. Hy is verstandelik gestremd.

Hy het na die operasie ’n beroerte gehad, kry nou ook epileptiese aanvalle en kan nie meer loop nie.
Weens die aanvalle wat hy kry, moet sy ma, Patricia Smit, hom gereeld na die nuwe hospitaal toe neem, omdat hy ander mediese probleme ook ondervind.
Pasiënt drie dae nie gebad nie
Met sy mees onlangse opname het sy na drie dae agtergekom dat die personeel hom nie gebad het nie (hy kan dit nie self doen nie). Op navraag daaroor is daar vir haar gesê daar is nie genoeg personeel beskikbaar om hom te bad nie.
Sy het besluit om hom dan maar self te bad. “Daar was géén warm water nie! Hy het gehuil toe ek hom met die koue water bad!”
Patricia het verder ’n foto gestuur van erge swelling op Willem se arm. Sy beweer dit weens die aarvoeding.

Patricia het ook gekla dat hy vir breinskanderings gestuur is na die Witbank Hospitaal toe al verlede jaar, maar dat hulle tot nou toe nog nie enige uitslae gekry het nie. “Die verskoning is elke keer dat hulle vir die Witbank Hospitaal wag. Ons weet dus steeds nie wat het die beroerte veroorsaak of hoekom kry my kind so hoofpyn en die epileptiese aanvalle nie!”
Klagtes gestuur vir toepaslike departemente
• Die Middelburg Observer het die volledige stel klagtes, formeel voorgelê aan die Provinsiale Departement van Gesondheid, die LUR vir Gesondheid, die Gesondheidsombudsman en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie. Al hierdie instansies het bevestig dat hulle die klagtes ontvang het.
Nog ’n ompad na die hospitaal
• Die pad na die hospitaal toe is nog nie voltooi nie en moet besoekers met ’n stamperige grond ompad, wat ’n nagmerrie is as dit reën, na die hospitaal toe ry.
@middelburgobserver Visitors to the King Nyabela Hospital in Middelburg are still forced to use the gravel detour road. It is a major challenge, especially during rainy weather. KingNyabelaHospital, MiddelburgObserver
• Daar is hierdie week ook ’n foto vir die Observer gestuur waar die sekuriteit by die hek sit waar mense moet inloop. Voertuie word net toegelaat op die perseel om pasiënte af te laai. “Die sekuriteitmense sit in wind en weer by die hek, daar is géén toilette naby of ’n sekuriteitshokkie nie. Al wat daar is, is twee stoele, ’n klein tafeltjie en ’n vyf liter bottel water vir hulle om te drink die hele dag,” het die bron (wat anoniem wil bly) omgekrap gesê.

