Daar heers groot kommer oor Loskopdam.
Loskopdam is grasgroen van alge, en talle klaers wat Middelburg Observer geskakel het, sê dat hulle riool op die dam sien dryf het.
Daar is ook ’n melkerige voorkoms aan die water.
Alta Jooste wat uit Australië in Middelburg kom kuier het, was een van die geskokte klaers.
“Ons was naar van die rou riool op die dam,” sê Jooste.
Jooste sê sy was geskok oor al die dooie visse en voëls wat sy op die dam gesien het.
In een opvolg boodskap sê Jooste: “Wat ons regering duidelik nie besef nie, is water is lewe.”
@middelburgobserver KYK: Inwoners spreek kommer uit oor ernstige algegroei by die Loskopdam Lees meer: #MiddelburgObserver #Middelburg #Mpumalanga #loskopdam
Loskop Fishing Charter het ’n ander verduidelikking en sê dat dit dooie bakterieë is wat die melkerige voorkoms vorm namate hulle doodgaan.
Die alge, sê Loskop Fishing Charter, is as gevolg van die ontbinding van natuurlike materiale en organismes.
“Onkundige klaers berokken ongelooflike skade aan Loskop en die omgewing met oningeligte stellings,” sê Juan Swart van dié boothuur besigheid.
Verskeie gesonde vis wat uit die dam getrek is, is voorgehou as bewys dat die dam nie toksies is nie.
Kenners het ook al vantevore verduidelik dat die water draai weens ’n wisseling in temperature.
Dit veroorsaak dat verrotte material oppervlak toe gespoel word, wat weer die aaklike rioolreuk veroorsaak, wat besoekers dalk kan laat dink dat dit rou riool is.

Nietemin is daar tog erken dat watergehalte van Loskopdam se invloei nie na wense is nie, en kan verbeter.
Swart sê dat daar meer as 50 kurpers uitgetrek is tydens ’n onlangse bootrit en dat al die vis vet en gesond was.
Hy sê as die visvrektes as gevolg van besoedeling was, sou ál die vis gevrek het.
Van die klaers sê dat die probleem al sedert 28 Desember broei.
• Akwatiese spesialis en rivier ekoloog André Hoffman het die volgende verduideliking gegee:
“Daar is geen manier dat die vaste gedeeltes van rioolafval in Loskopdam kan ronddryf nie. Die naaste rioolplase is meer as 100km van Loskopdam af en die klowe en waterval stroomop van die dam sal voorkom dat vaste dele die dam kan bereik.
Eutrofikasie is die groot probleem. Eutrofikasie of voedingstof verreiking is die toename in fosfate en nitrate wat natuurlik kan plaasvind maar met die populasiegroei in SA vind dit al meer plaas.
Rioolplase wat nie werk nie is nie die enigste probleem nie. Afvloei van landbou en veekrale dra ook by tot die verreiking en selfs donderstorms en haelstorms kan ook ‘n toename in veral nitrate veroorsaak. Met eutrofikasie vind ‘n toename in veral alggroei plaas.

Ongelukkig is daar ‘n alggroep wat bekend is as die blougroen alg, Microcystis aeruginosa, wat die vermoeë besit om na die oppervlak te beweeg vir sonlig wat dan ander meer voordelige alge se groei onderdruk en dan dik lae groen massas vorm. As die lae dan te dik word, vrek die alge en vorm ‘n ligteblou kleur en hierdie alge wat dan vrek, skei ‘n gifstof af. Hierdie gifstof is bekend as microcystin en is baie giftig wat die dood van selfs groot diere soos buffels wat die water drink, kan doodmaak.
‘n Verdere probleem van die baie alge is dat dit lei tot suurstoftekorte in die water selfs.
Die probleem van die blougroen alge is al vir ‘n geruime tyd ‘n probleem op Loskopdam wat ongelukkig elke jaar vererger. Dit lyk onaangenaam en veroorsaak probleme met watersuiwering. Gelukkig neem dit af in die winter wanneer dit koud is, maar verdwyn nie totaal nie.
Die groot vraag is wat kan gedoen word om die verryking van die water te verminder. Al wat menslik moontlik is, is om druk op die plaaslike regering te plaas om die werking van die rioolplase te verbeter. En wie moet dit doen? Elke lid van die publiek kan daarmee help!
• Forever Loskopdam se bestuurder, Hanno Coetzee, het nie op Observer se versoeke vir kommentaar gereageer nie.
