NewsSport

Dominee gaan kerkpak verruil vir ’n roeispaan

Player in die heel eerste Dusi kano marathon deur slang gebyt

Van die preekstoel na die rowwe waters van die uMngeni rivier.
Op 19 Februarie gaan ds Colin Hertzog (56) sy kerkpak verruil, vir ’n kano en roeispaan, wanneer hy die 75ste Dusi kano marathon aandurf.
Die Dusi eindig op Saterdag, 21 Februarie 2026, by die Blue Lagoon in Durban.

Ds Colin Hertzog.
Ds Colin Hertzog. FOTO: Verskaf.

Ds Hertzog, van die Hervormde Noord-gemeente op Middelburg, is ook die vise-voorsitter van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering.
Hy het Saterdag saam met nog ’n ysterman van die dorp, Shaun Bekker (46), die Vaalrivier aangedurf om vir die Dusi te kwalifiseer.
Ds Hertzog is ’n ervare ultra atleet wat al 20 Comrades marathonne voltooi het en in 2023 ’n vol ysterman.
Nadat ’n kniebesering hom van die langpad af gedwing het, het hy die roeispaan opgeneem.
Saam met hom in die kano is Bekker, oudleerling van Hoërskool Kanonkop, wat al ’n half ysterman in 2022 voltooi het.

Shaun Bekker gaan saam met ds Colin Hertzog die Dusi aandurf
Shaun Bekker gaan saam met ds Colin Hertzog die Dusi aandurf. FOTO: Facebook.

Vroegoggend, wanneer die dorp nog slaap, is die twee op die water om te oefen.
Hulle het ook al met die Klein Olifantsrivier langs vanaf Middelburgdam, tot by die brandweer geroei, vir ’n oefening.
Die einde van die maand gaan hulle die Vaal kano marathon aandurf, indien die rivier se vloei dit toelaat.
“Ek het nooit gedink roei is so tegnies nie, veral wanneer jy witwater tref en jou lyne moet hou, dan skop die adrenalien in,” vertel ’n opgewonde Shaun.
Na die Dusi gaan hy ook in April saam met Herman van Niekerk ’n Ysterman aandurf.

Overhead view of kayakers navigating a turbulent, rocky river. A large group of spectators watch from the grassy riverbank. The scene is dynamic and lively.
Dit is wat op ds Colin Hertzog en Shaun Bekker wag in die Dusi kano marathon. FOTO: Anthony Grote/Zululand Observer.

*Die idee om met die Msunduzi- en uMngeni-riviere af te roei, is tydens die Tweede Wêreldoorlog gebore, toe Ian Player, vol heimwee om ’n kampvuur in Italië gesit het. Hy het toe die idee gekry om ’n roei marathon stroomaf van Pietermaritzburg na Durban te begin.
Nadat ’n aanvanklike ekspedisie beplan is, maar toe halfpad in 1950 gestaak is, het agt roeiers op 22 Desember 1951 vanaf Alexandra Park vertrek. Ses dae, agt uur en 15 minute later, was Player die enigste roeier wat klaargemaak het, nadat hy twee dae van lae riviere, ’n kitsvloed en nagadderbyt oorleef het.

Die agt roeiers was veronderstel om in pare te roei, maar Player se roeimaat, Miles Brokensha, het op Kersaand by die Mfula Store opgehou. Toe Player in Durban aankom, was hy buite die aanvanklike stel reëls, maar die eerste persoon wat “die Dusi voltooi het”.
Player het die volgende twee Dusi’s saam met Fred Schmidt gewen.
Teen die 1956-Dusi het die inskrywings 48 bereik en veranderinge het begin plaasvind. Van ’n geen-stop-formaat is oornagstoppe by die Dusi-brug en Khumalo’s Causeway geïmplementeer.

*Shaun kan darem met ’n geruste hart die wilde waters van die Dusi aandurf. Daar is seker niemand beter om saam met jou in ’n kano te hê as jou eie dominee nie!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button