Kwaliteit van Loskopdam ‘n kwelpunt, maar kry aandag van DWS, Loskop Besproeiingsraad en MTPA
Daar dryf goed maar dis nie die goed waaraan mens dink nie.
Talle klagtes oor Loskopdam wat besoedel is, word op sosiale media versprei.
Kenners het hulle hierdie week daaroor uitgespreek. Middelburg Observer het reeds hieroor berig.
Die Loskop Besproeiingsraad het egter vandag gesê dat water steeds van goeie gehalte is.
Die Loskop Besproeiingsraad het die volgende gesê in ’n persverklaring:
“Ten spyte van die herhaling van sianobakterie-opbloei in die riviersone van die Loskopdam, het studies wat deur die Universiteite van die Vrystaat en Stellenbosch en die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) uitgevoer is, bevind dat die water wat deur die Loskop Besproeiingsraad aan die verbruiker verskaf word, steeds van goeie gehalte is, en die gemete waardes is steeds binne die voorgeskrewe riglyne soos uiteengesit in die Suid-Afrikaanse Waterkwaliteitsriglyne Veldgids (TWQR).
“Alhoewel ’n toenemende toename in die water se totale opgeloste vaste stowwe (TDS), alkaliniteit, pH en metale waargeneem word, is geen patogene of sianotoksiene wat ’n risiko vir menslike en dierlike gebruik inhou, gedurende einde 2025 in die water van die kanale, damme of riviere gemeet nie. Die sianobakterie is ernstig en moet onder beheer gebring word en is daar reeds aksieplanne om dit op ‘n omgewingsvriendelike manier te behandel.
“Wat onlangs gesien is in Loskopdam en baie op sosiale media versprei word, is dat daar baie groot besoedeling in Loskopdam voorkom en word aannames gemaak dat daar direkte riool in die dam invloei vanaf die boonste gedeelte van die Olifantsrivier. Dit is egter glad nie die geval nie. Na noukeurige ondersoek is daar deur kundiges bevestig dat die oorsaak van die reuk en dryfsels op die dam die dooie alge is wat op die bodem lê wat as gevolg van “lake turn” (wanneer baie water invloei as gevolg van baie reën), nou na die oppervlak kom as bruin soliede stukke. Dit word wit as die son op dit bak en het ’n baie slegte reuk. Dit lyk dus soos riool wat nie die geval is nie. Riool en toiletpapier wat wel stroom-op in die sisteem beland breek op lank voordat dit in Loskopdam kom en is dus nie sigbare soliede stukke nie. Baie mense maak verkeerde gevolgtrekkings gebaseer op wat hulle sien.”
Besoedeling in die opvangsgebied word bestuur
Die Loskop Besproeiingsraad het duidelik daarop gemerk dat die besoedeling in die opvangsgebied, ernstige aandag geniet.
“Daar is daaglikse inspeksies in die Olifantsrivier waar die Departement van Water en Sanitasie (DWS), Loskop Besproeiingsraad en Mpumalanga Toerisme en Parke Agentskap (MTPA), en van die gemeenskap is betrokke by die identifisering van moontlike besoedeling stroom-op wat dan na Loskopdam toe vloei. Daar is reeds skuldige partye aangespreek en aangekla,” het die Loskop Besproeiingsraad aangedui.
Hiasinte in Loskopdam
Hul het ook gesê dat Hyasinte in die dam nie op die stadium ’n probleem is nie, en dat dit ook tans bestuur word en deel vorm van die beheer en bestuur van die dam.
