Windbuks laat Aeorand kat-mamma naels wys
Daar is op drie ander koeëls ook afgekom tydens die veeartsondersoek.
’n Kat-mamma van Aerorand se naels is uit nadat haar kat, Sokkies, Maandagaand met ’n windbuks geskiet is.
Die kat is Dinsdagmiddag uit die Kanonkop Dierekliniek ontslaan na sonars, x-strale en binneaarse vloeistowwe.
Daar is besluit om nie die koeëltjie te verwyder nie, omdat die kat reeds met drie ander windbukskoeëls loop.
Die veearts vermoed dat die kat vantevore al geskiet is.
In Maandagaand se skietvoorval is die kat in die buik gewond.

Daar was baie bloed en die kat was in erge pyn.
Die eienaar sê dat hulle omstreek 21:00 tuis gekom het Maandagaand en die kat sien lê het.
Die kat het ook opgebring en nadere ondersoek is ingestel.
Daar is toe gesien dat die kat se pels vol bloed is.
Die kat is geneem vir behandeling en was Dinsdag weer tuis vir ’n verdiende pamperlang.
Volgens veeartse is windbukswonde algemeen by katte en word dit tydens ander ondersoeke opgetel.
Teen daardie tyd het die katte reeds van die skietwonde herstel.
Kanonkop Dierekliniek het egter gesê dat daar tot dusver nog net een geval, Sokkies, by hulle aangebring is.
