Dagpatrollie trek man vas waar hy deur heining probeer breek met pypsleutel
Op en wakker Dagpatrollie fnuik Kanonkop inbraak.
‘n Inwoner in Oleanderstraat, Kanonkop, verdien ‘n braai by die bure nadat sy vroegdag alarm gemaak het oor ‘n man wat by ‘n buurhuis in die straat deur die palissade-heining probeer breek het met ‘n pypsleutel.
Die vrou het dadelik die nommer van die Dagpatrollie geskakel, waarna Arthur Hill en sy span hulle soontoe gehaas het. Daar aangekom, is hulle meegedeel dat die man ‘n rooi gereedskapsak by hom het en intussen gesien is waar hy na Hibiscusstraat se kant toe loop.

Hill en verskeie van sy reaksiemanne, insluitende Dagpatrollielede in Oleanderstraat, het Hibiscusstraat gefynkam vir die verdagte. Hill se foon het egter weer gelui met die nuus dat die man terug is by die huis in Oleanderstraat waar hy voorheen gepoog het om deur die heining te breek.
Die man is vir ‘n rukkie dopgehou, maar toe hy weer aan die palissade-heining begin ruk, het Hill en sy span gereageer. Hulle het die man en sy gereedskapsak polisiestasie toe geneem, waar klagtes van opsetlike saakbeskadiging en poging tot inbraak aanhangig gemaak is. Hy sal waarskynlik Maandag eers in die hof verskyn.

Inwoners vertrou nóg die polisie, nóg die howe om gewoontemisdadigers van die strate af te hou. Sedert vanoggend se voorval word Hill oorval met navrae oor die Dagpatrollie. Die Dagpatrollie se naam beteken nie dat daar net gedurende die dag misdaadvoorkoming gedoen word nie; hulle werk deurnag en verleen ook hulp op die N4 aan slagoffers van staalpenne wat geteiken word vir roof.
Hill kan geskakel word by 083 870 9693.
