News

Kaap-Gotiese boustyl bekyk in die week se geskiedenis terugblik

‘n Baken word ingewy – Die Witkerk 18 Januarie 1890

Die inwyding van die eerste Nederduits Gereformeerde Kerk in Middelburg het op 5 Oktober 1867 plaasgevind. Die kerk was gebou van gebakte stene, het ‘n grasdak gehad en was maar ongeveer 16 meter lank! Die gebou het meer suid van die huidige kerkgebou op die hoek van SADC- en Walter Sisulustrate gestaan, waar die Bosch-gebou tans is. Teen 1875 word gerapporteer oor die swak toestand van die gebou en op 17 Maart 1875 besluit die Kerkraad om ’n nuwe kerk op te rig. Onder die leiding van ds. Alewyn P Burger word ’n boukommissie gekies.

Ontwerp in die Kaap-Gotiese boustyl

Die nuwe Kerk, wat ’n baken vir Middelburg sou word, word op 18 Januarie 1890 ingewy, met ’n totale boukoste van £11 617 (Ongeveer R260 000 volgens 2026 wisselkoers).
Die kerk is ontwerp in die Kaap-Gotiese boustyl deur die argitek Otto Carl Hager van Stellenbosch. Die ontwerp is tipies van Hager, met die hoë Neo-Gotiese venster bo die voordeur, hoë steunbere op die hoeke en tussen die vensters, en met laset vensters en torinkies op die basisse van die endgewels, met spitsgewels op alle kante. Daar is ook traserings in klip in die breë boogvensters van die endgewels.
Otto Hager se seun, John, vestig hom op 16 Mei 1886 in Middelburg en tree op as die bouer van die kerk.

Spacious church interior with wooden pews, arched ceiling, and pulpit. Two large projection screens flank the altar, creating a solemn, peaceful atmosphere.
Erxleben preekstoel met kroonlig. FOTO: Rudi van Wyk

Preekstoel deur Erxleben gemaak

Die horlosie, klokke, lampe en oorspronklike orrel is deur eerwaarde Carl Theodor Nauhaus, van die Botshabelo Sendingstasie, uit Duitsland bestel. Die preekstoel is deur die Kaapstadse houtsneewerker Erxleben gemaak en is geskoei op die preekstoel van die ou NG kerk Stellenbosch, teen ’n koste van £350 (Ongeveer R8 000 volgens huidige wisselkoers).
Al die boumateriaal, lampe, klokke, en horlosie is tot op Ladysmith (Natal) per trein vervoer en van daar per ossewa na Middelburg.

Die koster moes elke lamp vul

Die 44 brons kerklampe was almal paraffien lampe. Die muurlampe was laer gemonteer as die huidige plasing (na die lampe gerestoureer en geëlektrifiseerd is), maar die koster moes steeds met ’n leer elke lamp met paraffien vul, aansteek en na die diens weer uitdoof. Die groot kroonkandelaar met 18 lampe is met ’n katrol uit die dak laat sak vir elke aanddiens, aangesteek en dan opgehys. Die brons lampe moes ook gepoets word.

Complex machinery with interlocking gears and metal components, set against a light-colored background.
Oorspronklike kerkhorlosie wat steeds in die toring is. FOTO: Rudi van Wyk

Die koster moes ook weekliks die toring uitklim om die horlosie op te wen. Die jong Minnaar broers het aangebied om hom hiermee te help en die toring uitgeklim.
Die toring is van staal wat beklee is met ’n sink toringspits.

A wooden ladder leans against a rustic wooden ceiling inside a dimly lit room, creating a sense of intrigue and exploration.
Die toringleer. FOTO: Rudi van Wyk

Die koste vir eerste klas sitplekke

Die kerk bied sitplek aan ongeveer 1200 persone in ’n sentrale skip, twee dwarsskepe en drie galerye. Die sentrale banke is aanvanklik uitverhuur en deur loting toegeken. Loting is gebruik omdat almal die gesiene voorste gestoeltes wou huur! Die middelste blok banke was in die middel met ’n plank paneel geskei, sodat twee families per bank geakkommodeer kon word, en kinders vir mekaar oor die plank kon loer! ’n Naamkaartjie is in ’n gepoleerde koper raampie op die punt van elke verhuurde bank aangebring. Die koste vir eerste klas sitplekke, naaste aan die preekstoel, was vyf sjielings per jaar (ongeveer R6) en tweede klas sitplekke, agtertoe, drie sjielings (ongeveer R4). Die banke onder die galerye is nie verhuur nie. Dit het groot konsternasie veroorsaak as iemand op die verkeerde bank gaan sit het!

Wilhelm Sauer-orrel

Die orrel is op die suidelike galery geplaas. Die oorspronklike orrel kos £450 (Ongeveer R10 000). Dit was ’n Wilhelm Sauer-orrel, wat uit Duitsland bestel is en per ossewa van Durban na Middelburg vervoer is. Mev Janie Burger, eggenote van ds. Alewyn Burger het die orrel bespeel. Die orrel se blaasbalk was agter die orrel en moes met die hand gepomp word vir elke gesang. Dit was die koster se verantwoordelikheid, maar daar word ook vertel dat daar dikwels jong seuns aangebied het om die orrel te pomp. Dikwels het hulle as kwaai-jong streke ophou pomp, waarna die orrel met ’n geroggel ophou speel het, en dan tot hul groot vermaak weer vinnig “opgewarm’ is met ’n bose arm swaaiende koster as aanmoediging. (Dit is nie die huidige orrel van die kerk nie, dié is eers in 1936 geïnstalleer, en het ‘n elektriese blaasbalk).

Vintage photograph of a dirt road flanked by rustic buildings and trees, evoking a nostalgic, serene atmosphere from a bygone rural era.
Kerkstraat waar die prosessie afbeweeg het. FOTO: Tania Kok

Die oudste ouderling met die kanselbybel

Die kerk word ingewy oor die naweek 16-18 Januarie 1890.
Op Sondag 18 Januarie 1890 kom die gemeente byeen in die ou Kerkgebou in Walter Sisulustraat vir ’n afskeidsdiens. Daarna “begint de plechtige optocht” na die nuwe kerk. Die koster lei die optog, gevolg deur John Hager as die boumeester, die boukommissie van veertien statige omies, die oudste ouderling met die kanselbybel, ds. Alewyn Burger, ds. HS Bosman (van Pretoria) en ds. HJ Neethling (van Lydenburg) getoga, die kerkraad en dan die res van die gemeente. Dis moes ’n indrukwekkende prosessie gewees het langs die stofstraat, toe bekend as Kerkstraat (Walter Sisulustraat), in swart manelle en keile, in die bloedige Januarie-son. Die kerkklok het nog nie uit Duitsland aangekom nie, en dit is dus nie gelui nie.

Ds. Burger doop 40 babas

Met die aankoms by die kerk het ds. Burger die voordeur oopgesluit, ds. Bosman die tweede diens van die dag gelei en ds. Burger doop 40 babas! Stel jou voor twee kerkdienste en dan doop van 40 babas, elk seker met drie tot vyf name, in die hitte, met ’n stywe regop boortjie-kraag en das, swart manel en onderbaadjie. Dames met hoed, swart sykouse en handskoene en die kinders met pepermente!

Die baken van Middelburg is op 17 Augustus 1984 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button