As julle stilbly, sal die klippe uitroep…en toe roep die klippe
Hartroerende boodskappe van Amerika tot Duitsland en Australië
In Lukas 19:14 staan daar geskryf: “Jesus het gereageer: Ek sê vir julle, as hulle stilbly, sal die klippe dit uitroep!”
En toe roep die klippe uit!
Van reg oor die wêreld.
Van Australië, tot Duitsland, Namibië en Amerika.

Die klippe roep na geliefdes wat oorsee hulle heil gaan soek het, kinders wat aan die dood afgestaan is, ’n oupa en ouma wat gemis word en ’n kind, pa of ma, wat te sterwe gekom het.
En die klippe roep sommer ’n paar keer na die mees geleesde vers in die Bybel, Johannes 3:16: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

Vandat die klipverfidee by De Voetpadkloof-oord posgevat het, kan besoekers nie ophou verf nie.
Langs die swembad sit ’n oupa en verf, in tente is dit die ene konsentrasie, terwyl die verfkwassie ’n boodskap virewig.

Gerhard van Maanen van Standerton se kinders is al 10 jaar in Australië.
Die gesinnetjie het van oorsee kom kuier en Dinsdag sit hulle almal langs die swembad besig om klippe te verf.
Oordbestuurder, Johan Ludick, sê die idee het tydens ’n oggendvergadering onder personeel posgevat en sedertdien kan oordbesoekers net nie genoeg kry van die klipverf nie.
“Ons wou mense die kans gee om hulle herinneringe by die oord uit te leef. Sedertdien is daar al mense wat gevra het of hulle nie die klippe permanent kan vassit nie.”

Dit werk eenvoudig; jy gaan soek jou gunsteling klip in die koppies, koop verf teen R31 by die oordwinkel en dan verf jy…
Dit het ’n groot aantrekkingskrag geword met gaste wat op en af loop om die boodskappe te lees.
Die volgende herinneringsprojek wat hulle gaan aanpak is ’n raam waar besoekers foto’s kan neem.
Intussen roep die klippe uit…roep hulle rotsvas na geliefdes, na God, uit Suid-Afrika na familie oorsee en na tere herinneringe, na tye wat was, ’n geliefde wat nie meer daar is nie…

