Die Middelburg Marathonklub se vroue atlete is vasbyters, want nie eers die trauma van ‘n ongeluk kon hulle weghou van ‘n wedloop af nie!
Sannie Uys vertel dat hulle vroeg vanoggend saam met Chris en Alet Pretorius vanaf Middelburg na Benoni gependel het in hulle VW Kombi om aan die Johnson Crane Hire wedloop deel te neem.
“Toe ons Benoni inry, het ‘n Micra met ‘n spoed van agter af in ons vasgejaag. Die slag het die kombi se sleepstang afgebreek, die agterkant opgelig en die voertuig laat dwars draai. As Chris nie so mooi kopgehou het nie, sou die kombi omgeslaan het.”

Volgens Sannie het hulle aanvanklik gedink iemand probeer hulle kaap, maar die Micra het tot in die kruising gegly, waar dit tot stilstand gekom het.
Sy meld dat die bestuurder verskoning gemaak het, want hy was op die selfoon besig met ‘n kliënt.
“Gelukkig was daar vinnig ‘n buurtwagvoertuig op die toneel en het ons vier deelnemers nader aan die stadion gaan aflaai.” Chris moes by die voertuig wag vir die polisie.
“So toe hardloop ons vier girls toe maar in elk geval die 21.1km. Annaleen het heel agter in die kombi gesit en het die hardste stamp gekry. Sy het bietjie whiplash. Ons was maar erg gerattle, maar hardloop sal ons hardloop!” het Sannie ter afsluiting gesê.
