News

Die Week in Middelburg se Geskiedenis

Die Kerk koop Middelburg vir R500 – 28 Januarie 1864

Die vraag word telkens gevra, wanneer is Middelburg gestig? Daar is egter ‘n paar belangrike datums.

In 1860 is Lydenburg (Masishing) ‘n aparte Republiek! Die Volksraad van die Republiek van Lydenburg neem op 25 Oktober 1859 ‘n besluit om ‘n nuwe dorp te stig op die eerste of tweede bult tussen Klipspruit en die eerste spruit van die Olifantsrivier. Dit sou op die plase Keerom en Klipfontein gewees het. Op 29 Maart 1860 kom die Volksraad weer byeen en besluit om die nuut gestigte dorp Middelburg te noem, waarskynlik omdat dit ongeveer halfpad tussen Pretoria en Lydenburg was. Hierdie posisie, noord-oos van die huidige dorp, was egter nie vir die inwoners geskik nie en daar kom niks van die “eerste Middelburg” nie. In 1860 hou die Republiek Lydenburg op bestaan en smelt dit saam om die Zuid-Afrikaanse Republiek te vorm. Niks kom van hierdie dorpstigting nie!

Op 28 Januarie 1864 koop die Nederduits Gereformeerde Kerk Lydenburg die plaas Sterkfontein van Lodewyk de Jager Snr, vir £22:10:0 (ongeveer R500 teen wisselkoers in 2026) en twee watererwe in die ter stigte kerkdorp. (Watererwe verwys na erwe met toegang tot water uit spruite of later leivore.) Hiermee koop die Kerk die huidige Middelburg en is dit die amptelike stigtingsdatum van die dorp.

Abraham Benjamin Joubert en Nicolaas Petrus Prinsloo, ouderlinge van die Lydenburg gemeente, speel die hoofrol in die stig van die dorp. Ds Leon Cachet, konsulent van die kerk en gebaseer in Utrecht, stel die naam Nazareth voor –wat twee betekenisse kon hê – die eerste ‘n wortel wat uitspruit uit die dorre grond of ‘n strategiese punt op ‘n heuwel. ‘n Derde moontlikheid was die Bybelse dorp Nazareth. Watter betekenis ds Leon Cachet gebruik het vir sy aanbeveling, is onbekend. Daar gebeur egter nog steeds baie min na hierdie besluit.

Die Kerkraad onderhandel nou met die Zuid-Afrikaanse Republiek se regering, onder president MW Pretorius, verteenwoordig deur die Landdros van Lydenburg, oor die nuwe dorp. Op 19 Maart 1866 word die besluit geneem dat die nuwe dorp ‘n Kerkdorp sal wees, dit wil se ‘n sentrum vir die kerk en bestuur deur die kerk, met die naam Nazareth. Die Regering onderneem om nog grond by Sterkfontein te voeg en ontvang in ruil daarvoor een derde van die erwe in die nuwe dorp.

Opmeting van die dorp

In 1866 word die landmeter, Theodore Rooth, deur die Kerk aangewys om die dorp op te meet en die grense af te baken. Rooth doen verslag aan die Kerkraad van Nazareth op 11 Maart 1867. Hierop volg ‘n aantal regulasies wat op 27 Maart 1869 deur die kerkraad van Nazareth geformuleer is, om die dorp te bestuur. Ondermeer behels die regulasies dat die Kerk erwe sal verkoop, dat die kerkplein die eiendom van die kerk bly en slegs regeringsgeboue mag daar gebou word. Hierdie punt sou later ‘n Hooggeregshof saak word tussen die Stadsraad en die NG Kerk oor eienaarskap van die pleine. Die hof het ten gunste van die Stadsraad uitspraak gelewer en daarom is die plein voor die kerk nou ‘n munisipale park.

Die basiese uitleg van die sentrale deel van Middelburg, die ruim Kerkplein, Markplein (noord van die kerk) en die pastorie area (huidige winkelkompleks wes van die kerk) en die ruimte vir die Hooggeregshof, is te danke aan Rooth se benadering.

Theodoor Rooth vestig hom nou in Middelburg as die eerste inwoner en het die eerste huis in Middelburg gebou. Op 13 Mei 1867 besoek Direkteur Wangemann van die Berlynse Sendinggenootskap Nazareth/Middelburg en noem dat daar slegs ‘n hut was en die huis van Rooth, wat as agent vir die verkoop van erwe opgetree het. Die kaart waarop hy die kerk-erwe aangedui het, is verlore .

Eienaars van erwe moes hul aktes by die Landdros van Lydenburg registreer tot Augustus 1872 toe die eerste Landdros vir Nazareth/Middelburg aangestel is.

In 1867 word die tweede gebou opgerig, naamlik die grasdak NG Kerk op die hoek van Walter Sisulu en SADC straat.

Die straatname uit die tydperk is interessant. Boven straat is die suidelike grens van die dorp – huidige Cowen Ntuli straat, Lang straat die huidige SADC straat, Middel straat die huidige Bhimy Damane straat, Mooi straat huidig Dr Beyers Naude straat, en Dwars straat huidig Lilian Ngoyi straat.

Theodoor Rooth

Die vraag is wie was Rooth wat verantwoordelik was vir die uitleg van die dorp? Jan Godard Elmirus Theodoor Rooth is gebore op 21 September 1823 in Maastricht in Nederland. Dit is onbekend wanneer hy geïmmigreer het na die Kaap Kolonie. Hy tree egter op 9 Januarie 1861 in Swellendam in die huwelik met Eliza Mathilda Middleton. Hy was ten tye 31 jaar oud en Eliza 20 jaar oud. Tydens die huwelik word sy beroep as klerk aangegee.

Wanneer hy na die Zuid-Afrikaanse Republiek gekom het en waar hy opleiding of ervaring as landmeter opgedoen het, is onbekend. In 1866 word hy aangestel deur die Nederduits Gereformeerde Kerk om die dorp uit te meet.

Hy en sy eggenote het ten tye reeds twee kinders:

  • Edward Isaac Rooth (1862-1928) wat die prokureursfirma Rooth en Wessels in Julie 1889 in Pretoria vestig (Die firma bestaan steeds) en dien as Adjunk-Speaker van die Unie Volksraad vanaf 1920 tot 1924.
  • Ellen Sophia Rooth

Hy bou die eerste huis in die dorp op die noord-oostelike hoek van Bhimy Dimane en OR Thambo strate op erf 219, waar hy hom saam met sy vrou en twee kinders vestig. Sy tweede dogtertjie Eliza Susan Rooth word op 30 Desember 1866 in die huis gebore as die eerste kind wat in die dorp Nazareth/Middelburg gebore is.

Hy moes Middelburg daarna verlaat het aangesien hy nie genoem word in die Recornitie rol van erwe wat tussen 1870 en 1875 verkoop is nie. Die rol dui die eienaar van erf 219 in 1875 aan as JC Malan.

Hy vestig hom daarna in Riversdal in die Kaap kolonie.

Eliza Susan Rooth, die eerste baba gebore in Middelburg, word in 1885 in Graaff-Reinet Nederduits Gereformeerde Kerk aangeneem en tree in die huwelik as Mev Lindsay-Johnson en woon in Durban.

Die plein voor die Witkerk word na Rooth vernoem as Rooth Plein, maar die Stadsraad het dit later na van Blerk Plein hernoem.

Distrik Nazareth word Middelburg

Eers op 30 Oktober 1871 word ‘n besluit deur die Volksraad, nou van die Zuid-Afrikaanse Republiek, aanvaar om Nazareth as ‘n distrik goed te keur en op 24 Februarie 1872 proklameer die Staatspresident Thomas Francois Burgers, Nazareth as distrik. Op 24 Augustus 1872 word AB Joubert as die eerste Landdros van Nazareth aangestel.

Joubert straat in Middelburg word na AB Joubert vernoem.

Die naam Nazareth is egter nooit gewild nie en na voorleggings keur die Volksraad op 23 Oktober 1874 word die naamsverandering na Middelburg, goedgekeur.

Alhoewel die plaas vir die huidige dorpsterrein reeds in 1864 gekoop is, en naam Middelburg vir die Keerom-terrein reeds in 1860 geneem is,  word die huidige dorp Middelburg se naam eers in 1874 goedgekeur.

Die dorp groei maar baie stadig en in 1874 is daar slegs sewe huise in die dorp! Dit sluit in Matiam Coetzee ‘n algemene agent en bouer, Herman Sagtlieben ‘n timmerman, Jeffreys ‘n winkelier, Fisher ‘n onderwyser en Andries du Toit ‘n boer.

Teen 1885 besoek Wangeman weer Middelburg en noem dat dit nou sigbaar gebloei het met groot aantal mooi huise en tuine!

Uit hierdie sukkelende beginjare in 1864 ontwikkel Middelburg in die huidige metropool van die area.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button