Wie is die knaap wat vir geen poort skrik nie?
Hy trap saam met Andru van Polokwane, oor Kranspoort en Bainskloof.
Andru van Zyl (18) het die land geïnspireer deur met sy fiets van Polokwane tot in Kaapstad te trap.
Hy het daarmee R600 00 vir Choc (Childhood Cancer Foundation) ingesamel.
Maar so stil-stil het nog ’n heldedaad ongesiens verbygegaan.
Toe lede van Middelburg Fietsryklub vir Andru in Desember by Loskopdam gaan haal, om hom tot in Middelburg te vergesel, was daar ’n klein witkop seuntjie met bergfiets wat saam getrap het.
Hy het nie veel gesê nie, net getrap.
Kranspoort uit, het geharde fietsryers gewag dat hy moet afklim en sy fiets verder stoot, maar hy het nie.
Die ongenaakbare poort, waar fietsryers al van hulle fietse afgeval het, omdat hulle nie verder kon trap nie, sou te moeilik wees vir die jong knap, is gemeen.
Tot almal se verbasing het hy kop neergesit en die poort uitgetrap.
Toe dit erg begin reën is daar skuiling gesoek by Buksies-restaurant. Hy was daarna nie baie entoesiasties om in die koue misreën verder te trap nie, maar hy het tog op sy fiets geklim en saam met die groep tot in Middelburg gery.

Die klein mannetjie met die groot hart is Joshua du Plessis (11) van Laerskool Witpoort.
Hy en sy pa, Steyn, het Andru tot in Clarence vergesel, ’n breek gevat en toe weer saam getrap.
Die poging het Donderdag in Kaapstad geëindig met Andru wat 2800 kilometer ver getrap het en Joshua wat self 1200 kilometer afgelê het.
“Hy het my en vele ander verbaas met sy vasberadenheid en deursettingsvermoë,” sê Steyn.
Vandag was dit weer terug skool toe vir die witkop met die groot hart.
Mens kan maar net dink watter ongelooflike storie hy vertel het, toe die juffrou vra “en wat het jy die vakansie gedoen?”
