News

Kwagga, JC en nou wag ons vir Grant…

Springbok sewes kan doen met ’n Middelburger in sy geledere.

Daar was Kwagga Smith, toe JC Pretorius en nou wag Middelburgers in spanning op Grant de Jager om sy Springbok sewes buiging te maak. Kwagga en JC het legendariese status in hulle sewes loopbane bereik. Hulle was ook albei sterre in die truie van die Rooi Bulle (HTS Middelburg). Dok Danie Craven het altyd gesê die Bokke speel beter met ’n Jood in die span, soos die vleuel Syd Nomis.

Is die sewes Bokke nie ook beter met ’n Middelburger in sy geledere nie? Miskien is ons te haastig om die gewese Hoërskool Middelburg kaptein in groen en goud te sien. En ja, hierdie keer is dit nie ’n oud Rooie wat wag om sy buiging vir die Bokke te maak nie, maar ’n Middie.

Die Bok sewes se media bestuurder en oud Rapport joernalis, JJ Harmse, sê Grant is gekontrakteer aan die begin van die 2026 seisoen en is besig om aan te pas in die sewes millieu. “Hy oefen goed en het reeds vir die A-span in die Afrika Beker in Mauritius en Dubai gespeel. Tydens die twee toernooie het hy waardevolle ondervinding opgedoen, om gereed te wees wanneer hy uiteindelik vir die HSBC SVNS-reeks nadergetrek word”.

JC Pretorius vir die Pumas in aksie. FOTO: Verskaf.
JC Pretorius vir die Pumas in aksie. FOTO: Verskaf.

Ja, geduld, geduld. ’n Speler soos Siviwe Soyizwapi het nooit in sy eerste jaar van kontraktering in die HSBC-reeks gespeel nie, omdat Seabelo Senatla so skitterend op dreef was. Grant sal waarskynlik as voorspeler ingespan word, alhoewel hy vir Maties vleuel of senter speel.

Die Bok sewes spog met ervare voorspelers soos die kaptein Impi Visser, Ryan Oosthuizen, Sovizwapi wat van die agterlyn na die voorspelers geskuif het, Zain Davids, Christie Grobbelaar en David Brits. Grant kry nie die naweek kans tydens die Singapoer-toernooi nie, maar as hy beseringvry bly, wed maar ’n geldjie dat hy tog later die jaar ’n kans sal kry. Visser word reeds die naweek gerus.

Grant de Jager draf voor vir Hoërskool Middelburg. FOTO: Facebook.
Grant de Jager draf voor vir Hoërskool Middelburg. FOTO: Facebook.
  • Twee spelers sonder toetservaring en die terugkeer van hul mees ervare spanlid is ’n kenmerk van die reisgroep van 14 spelers wat deur die Springbok Sewes-hoofafrigter Philip Snyman vir die naweek se HSBC SVNS Singapoer aangewys is. Luan Giliomee en Ronaldo Young kan hul eerste toetse in die Singapoer Nasionale Stadion verdien, terwyl Sebastiaan Jobb terug is in die groep, nadat hy laas in April verlede jaar vir die Blitsbokke in Singapoer gespeel het.
  • Soyizwapi sal ’n terugkeer na die groep maak, nadat hy die Blitsbokke laas in Mei verlede jaar by die HSBC SVNS Wêreldkampioenskap in Los Angeles verteenwoordig het. Hy sal ook die span aanvoer, aangesien Impi Visser gerus word vir hierdie reis wat ook die HSBC SVNS Perth vroeg in Februarie sal insluit. “Al die senior ouens sal rus kry voor die drie Wêreldkampioenskaptoernooie,” het Snyman gesê, wat die deur vir Grant kan oopmaak.
    Die groep het Maandag na Singapoer vertrek en Snyman sal die 13 spelers vir die toernooi more (Vrydag) kies.

 

Grant de Jager in die kleure van Maties. FOTO: Maties rugby.
Grant de Jager in die kleure van Maties. FOTO: Maties rugby.

Blitsbok-groep vir Singapoer:

#1 Christie Grobbelaar – 24 toernooie, 200 punte (40 drieë)
#2 Ryan Oosthuizen – 58 toernooie, 245 punte (49 drieë)
#4 Zain Davids – 55 toernooie, 240 punte (48 drieë)
#5 Ricardo Duarttee – 21 toernooie, 325 punte (24 drieë, 100 doelskoppe, 1 strafdoel)
#9 Nabo Sokoyi – 1 toernooi, 10 punte (2 drieë)
#11 Siviwe Soyizwapi (kaptein) – 60 toernooie, 795 punte (159 drieë)
#12 Shilton van Wyk – 29 toernooie, 310 punte (62 drieë)
#15 Donavan Don – 11 toernooie, 89 punte (17 drieë, 2 doelskoppe)
#16 Sebastiaan Jobb – 4 toernooie, 15 punte (3 drieë)
#19 David Brits – 11 toernooie, 50 punte (10 drieë)
#20 Renaldo Young – ongetoets
#21 Zander Reynders – 8 toernooie, 20 punte (4 drieë)
#24 Tristan Leyds – 13 toernooie, 149 punte (19 drieë, 27 doelskoppe)
#27 Luan Giliomee – ongetoets

Blitsbokke se groepwedstryde (SA tye, alle wedstryde regstreeks op SuperSport):

Saterdag 31 Januarie:

06:54: Spanje
10:20: Groot-Brittanje
13:46: Fidji

Groepe:

A: Suid-Afrika, Spanje, Groot-Brittanje, Fidji
B: Nieu-Seeland, Australië, Frankryk, Argentinië
Puntestand na twee rondtes:
1 Suid-Afrika – 32 punte
2 Fidji – 32
3 Nieu-Seeland – 32
4 Frankryk – 28
5 Australië – 26
6 Argentinië – 24.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Check Also
Close
Back to top button