News

Middelburg Erfenis: Die Week in Middelburg se Geskiedenis

Die lont van die Dinamiet Kommando - Henri Slegtkamp 2 Februarie 1951

Op Vrydag 2 Februarie 1951 sterf Henri Slegtkamp in Middelburg. Wie was hierdie Hollander, wat as die lont van die Dinamiet Kommando in die Anglo-Boereoorlog beskryf is?
Hendrik Frederik Slegtkamp is gebore op 19 April 1873 in Beverwijk in Nederland, as tweede van sewe kinders van Hendrik Slegtkamp en sy vrou Elizabeth Veniet. Hy kom op ’n onbekende datum, na die Zuid-Afrikaanse Republiek (ZAR) op soek na avontuur en vestig hom in die Middelburg-distrik.
In Desember 1895, op 22-jarige ouderdom, mobiliseer hy as deel van die Middelburg Kommando tydens die Jameson-inval (1895-1896), onder bevel van veldkornet Matthijs Pretorius en kry so burgerskap van die ZAR. Die kommando is egter nie betrokke in die verdediging teen die Jameson-mag nie, so hy neem nie aan enige geveg deel nie. Sy rol in die kommando is onbekend. In 1898 is hy betrokke by die onderdrukking van die Bhunu-opstand in Bremersdorp (Manzini) in Swaziland (nou eSwatini).

Oval portrait of a young Henri Slegtkamp with short brown hair and blue eyes, wearing a dark suit and a green patterned tie. His expression is serious and focused.
Henri Slegtkamp as jong man. FOTO: Verskaf.

In die opbou tot die Anglo-Boereoorlog keer hy op 15 September 1899 terug na Middelburg vanaf Swaziland en mobiliseer saam met die Middelburg Kommando onder bevel van kommandant Piet F. Trichard.

Anglo-Boereoorlog – Middelburg Kommando
Op 30 September 1899 vertrek Slegtkamp saam met 30 burgers van die Middelburg Kommando vanaf die stasie na die front. Hy is aanvanklik ’n voetganger, ’n burger sonder ‘n perd! So tree hy op as kanonlaaier vir kaptein Lood Pretorius (Skote Petoors) van die Staatsartillerie op 30 Oktober. Hy beskryf hoe kalm en rustig Pretorius gedurende die bombardement was en vermeld: “Dit het my so gekalmeer dat ek later nooit weer vrees vir kanonne gehad het nie”.
Na ’n tyd kry hy ’n perd! Dit is Slegtkamp se eerste ervaring met perdry en daar word humoristies beskryf hoe die perd hom telkemale afgegooi het.

Die boerseuns skeer gek met die Hollander maar hy byt vas. Na vele valle kry hy die perd ingebreek, maar nou lyk al die perde vir hom dieselfde, so hy bind ’n lint in sy perd se maanhare om hom te kan herken. Die boerseuns ruil die nag die lint om met een van die wildste perde, en daar vlieg Slegtkamp weer deur die lug. Na vele valle bemeester hy uiteindelik perd-ry.
Met sy avontuurlus, raak hy nou betrokke by verkenningswerk vir die boerekommando’ s in die Tugela-area, saam met sy mede Hollander Albert De Roos. Hier ontmoet hulle vir Jack Hindon, ook besig met verkenning. Dit lei tot ’n jare lange vriendskap.

Spioenkop
Die Middelburg Kommando het na ’n hewige bombardement ’n kop in die Tabanyamabergreeks ontruim en die regterflank van die Boere blootgestel. (Dit word hewig ontken deur sekere lede van die Middelburg Kommando). Slegtkamp, Albert de Roos en Jack Hindon, het op eie inisiatief die kop weer uitgeklim en die Britte se linkerflank onder hewige geweervuur gebring. Hindon hys ’n vlag en die drie vuur onophoudelik op die Britte en swaai die vlag. Die kop word deur verskeie kanonne gebombardeer en Slegtkamp beskryf sy optrede as die groot Lidiet-bomme, met hul kenmerkende gesuis aankom “lag ik met mijn hoofd in den grond te woelen gelijk een struisvogel (soos ‘n volstruis)”.

Onder die indruk dat die kop baie sterk beman was, het die Britte teruggetrek. Dit het die moreel van die burgers versterk en hulle het die kop weer beset. Vir hierdie heldedaad deur die Slegtkamp-groep is hulle deur genl. Louis Botha persoonlik bedank, dit is ook wyd gerapporteer en het gelei tot sy noemnaam “Slegtkamp van Spioenkop”.

Slegtkamp was onder meer ook lid van die Duitse Korps, die Edwards-verkenners, die Ierse Brigade en later die Danie Theron Verkenners.
Na Theron se dood by Gatsrand op 5 September 1900 en enkele omswerwinge, gee generaal Louis Botha goedkeuring vir Hindon om ’n nuwe Verkennerskorps van vyftig man te stig en is Slegtkamp as luitenant en tweede in bevel geplaas. Die hoofdoel van die nuwe korps was om die Britse verbindingslinies in Oos- en Noord-Transvaal te ontwrig en Britse treine te ontspoor – hierdie keurgroep staan amptelik bekend as die Transvaalse Vrywilligerkorps, maar informeel bekend as die Dinamiet Kommando!

Treinvernielers
Slegtkamp is spoedig as ’n plofstofdeskundige beskou, betrokke by die opblaas van verskeie spoorlyne en ontsporing van treine in die Oos- en Noord-Transvaal omgewing met dinamiet. In die rol is ’n mede Middelburg Kommandolid betrokke. Carl HW Cremer (1868-1901), was ’n jong Duitser wat hom tydens die uitbreek van die oorlog by Botshabelo Sendingstasie bevind het. Cremer ontwikkel die eerste geïmproviseerde ploftoestel deur ’n afgesaagde ou Martini-Henry geweer met loskruit onder die spoor te plaas by ’n dinamiet lading. Die gewig van die trein aktiveer dan die sneller meganisme wat die rondte in die dinamiet in vuur en dit laat ontplof. Carl Cremer sneuwel egter tragies op 18 Augustus 1901 naby Naboomspruit, maar Slegtkamp gaan voort as die lont van die dinamiet.

As deel van die Verkenners, met hul basis by Doornkop buite Middelburg, buit Slegtkamp onder meer ’n trop beeste en perde uit die besette Middelburg onder die oë van die Britse magte, jaag die diere deur die rivier en terug na hul basis.
Voorvalle is beskryf waar Slegtkamp ook te voet die Britte verras en tot oorgawe gedwing het, telkens met groot persoonlike gevaar. Vir hierdie heldedade ontwikkel Slegtkamp kru-handgranate van blikke met dinamiet en ’n lont. Hy steek die lonte aan die brand en gooi dan die blikke tussen die vyand in met groot sukses. Opsommend is gesê Hindon is die dinamiet maar Slegtkamp was die ontploffing!

Einde van die oorlog
Van die begin van 1902 tot die sluiting van die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902, is die korps meedoënloos deur die Britte tussen blokhuislinies rondgejaag. Twee weke voor die beëindiging van vyandelikhede, op 16 Mei 1902, het Hindon homself vrywillig aan die Britte by Balmoral oorgegee en word Slegtkamp kaptein en leier van die korps. As bittereinder moes hy egter ook kort daarna die wapen neerlê.
Slegtkamp ontvang die Oorlogs-medalje, die Lint vir Verwonding (hy is by Lindley gewond) en dan die Dekorasie vir Troue Diens (DTD).

Slegtkamp in 1935. FOTO: Mosterd, 1935.

Latere lewe
Onmiddellik na afloop van die oorlog het Slegtkamp terug na Nederland vertrek en by sy ouers aangesluit. In Europa is hy as oorlogsheld ontvang, met samekomste waar hy ook al gekom het. Maar hy kon nie in Europa aanpas nie en het in 1903 na Transvaal teruggekeer. Hy sou sy ouers en familie nooit weer sien nie.
Slegtkamp is op 18 April 1911 met Jacomina Elizabeth van Rooyen (Lilly), gebore Holtzhausen, getroud en ’n seun is uit die huwelik gebore.

Nadat hy eers as arbeider op ’n plaas in die distrik Standerton gewerk het, het hy in 1912 grond naby Witbank gekoop en op klein skaal begin boer. Die boerdery is egter ’n mislukking. In dieselfde jaar is hy aangestel as droogte-noodlenigings inspekteur van die Landbank in die Kaap, in ’n poging om aan hom ’n inkomste te voorsien.
Die egpaar vestig hulle in Middelburg in ’n woning in Bhimy Damanestraat 1 (Voortrekkerstraat 1) waar hy die bekende ou skraal oompie met ’n groot hoed in die dorp word! Die huis staan steeds.

Henri Slegtkamp se graf in Middelburg. FOTO: Verskaf.

Slegtkamp was sy lewe lank ’n ondersteuner van die republikeinse ideaal en het in die laat dertigerjare by die Ossewa-Brandwag aangesluit. Ten spyte van sy gevorderde leeftyd (hy was reeds 66 jaar oud met die stigting van die Ossewa Brandwag) was hy ’n aktiewe lid en het later Hoofgeneraal op die Hoëveld geword.
Sy laaste jare het hy rustig op sy tuisdorp, Middelburg, deurgebring.
Op Vrydag 2 Februarie 1951 word die lont van die Dinamiet Kommando finaal uitgedoof. Hy is begrawe in die Ou Begraafplaas in Middelburg, met ’n indrukwekkende grafsteen opgerig deur die Ossewa-Brandwag.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button