Een van die bes georganiseerde fietswedrenne is verlede Saterdag by die Willem Prinsloo Museum aangebied.
Die Race@Dinokeng gaan beslis een van die gewildste geleenthede op die fietsrykalender word en Lenie Smit van Lenick Promosies het bevestig dat sy die wedren weer volgende jaar gaan aanbied.
Sarel Esterhuizen van Middelburg Fietsryklub en oud Hoërskool Kanonkop onderwyseres Mara Holtzhausen het albei die 90km voltooi. Mara se man, die Comrades legende en oud HTS Middelburg onderwyser, Deon, was ’n toeskouer by die wedren.
Daar is groot moeite gedoen om fietsryers se veiligheid te verseker met borde wat waarsku dat die roete deur fietsryers gebruik gaan word, wat reeds twee weke voor die tyd op die pad aangebring is.
Slaggate is reggemaak en beamptes het die kruisings effektief beheer.
Die Willem Prinsloo Museum is die ideale wegspringplek en families het lekker in die mooi omgewing gekuier.
Lenick bied weer op 21 Februarie die Valentyn wedren by Rooiwal aan.
Daar is afstande van 95, 50 en 26km.
’n Week later is Rooiwal weer die gasheer van Radsport Argus Prep en afstande van 92, 52 en 26km.
*Nog fietsrynuus is dat Len Sutton van Middelburg Fietsryklub vyfde geëindig het in die tydtoets by die Suid-Afrikaanse kampioenskappe. Hy het deelgeneem in die ouderdomsgroep 70-74 en het die afstand van net meer as 13km in 27 minute afgelê.
Hy het gister aan die padwedren deelgeneem en sewende geëindig.
Sy skoonseun, Neville Rosenstein, neem vandag in sy ouderdomsgroep aan die padwedren deel.
Die kampioenskappe word in die omgewing van De Deur aangebied.
