News

Roeiers tem die Vaalrivier en is slaggereed vir Dusi

Wedvaart gaan vele uitdagings bied - jy kan dalk meer hol as roei.

As jy watervrees het bly weg.

Dit is nou nie soos om jou aas in te roei by Middelburgdam nie.

Nee o toggie, dit is wild.

Hulle sê elke sport het sy beserings.

Elke sport het ook sy uitdagings, sy opwinding en gevare.

Meer aksie op die water.

Foto’s van Shaun Bekker en Colin Hertzog wat die naweek geneem is tydens hulle deelname aan die Vaalrivier kano marathon, wys dat jy moet vashou, roei, maneuver, en water sluk.

Nee mense, hierdie is nie vir ouens wat bang is vir water nie.

Maar as jou roeimaat ’n dominee is wat agter sit, voel jy seker bietjie meer gerus.

Die gebede wat van agter kom, moet mos krag dra?

En die Hervormde Noord gemeentelede stuur seker self ’n gebedjie of twee op, wanneer hulle geliefde predikant die wilde waters aandurf.

Met die suksesvolle voltooiing van die Vaalrivier wedvaart het hulle gekwalifiseer om aan die Dusi kano marathon deel te neem.

Op 19 Februarie gaan Colin (56) en Shaun (46) die 75ste Dusi kano marathon aandurf.

Die Dusi eindig op Saterdag, 21 Februarie 2026, by die Blue Lagoon in Durban.

Shaun Bekker en Colin Hertzog by die Dusi.

En dit is nie net die roei wat hulle gaan uitdaag nie, maar veral die gehalte van die water.

Volgens berigte uit Natal kan die besoedelde rivier jou meer laat hol, as roei.

Die naweek se Vaalrivier wedvaart het by Deneysville begin en die eerste skof het 34 kilometer se roei beslaan, met die tweede dag 37km. Die einde was net voor Parys by die barrage.

“Die watervlak was laag en daar was baie klippe,” beskryf Shaun die toestande.

Hullle het die afstand onder vier ure voltooi.

Omdat daar nie ’n roeiklub op Middelburg is nie neem hulle vir Ekurhuleni Roeiklub deel.

“Daar is nog ’n paar klein goedjies wat ons moet regkry aan die boot en ons medikasie moet voldoende wees, dan is ons reg vir die Dusi.”

Liewe gemeente, bid maar voort, want my ma het altyd gesê jy speel nie met vuur en water nie.

En hierdie roeiery lyk na ’n wilde maar lekker spelery in die water.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button