News

Dennesig dammetjies: ’n Kolgans se oorlewingstryd

Die Dennesig dammetjies in Middelburg is oorgroei met digte alge en babergras, met min oop water en geen sigbare vislewe nie. Video’s wys hoe die kolganse sukkel om te swem, terwyl kenners waarsku dat dringende ingryping nodig is om verdere ekologiese verval te voorkom.

Eendjies, eendjies, truppel in ’n ry.
Een, twee, drie, vier, sukkel hul verby.
Links, regs, links, regs, kyk hoe swak!
Reguit dam toe … kwaak, kwaak, kwaak.

Die Dennesig dammetjies tussen Kanonkop en Dennesig was eens ’n oase van lewe. Vandag lê daar ’n digte algelaag en babergras op die water.

Die stilte is opvallend.

Besoekers aan die Dennesig dammetjies kyk ontsteld na die spartelende Kolganse. Foto: Carmia Jansen van Vuuren.

Daar is slegs ’n handjievol ganse oor. Geen visse in sig nie. En die dam is tjoepstil. Maar dit is dié kolganse se gesukkel wat die hele verhaal vertel.

Tussen die klein groepie kolganse, staan een van hulle op net een poot. Hy balanseer stadig. Elke beweging is berekend. Waar ander ganse vroeër vrylik geswem het, moet hy nou deur taai alge en babergras probeer beweeg.

Die oorsaak van sy besering is onbekend.

Die oorsaak van die Kolgans se besering is onbekend. Foto: Carmia Jansen van Vuuren.

In ’n dam waar babergras, onderwaterhindernisse en rommel kan wegsteek, waar suurstofvlakke sleg is en die vislewe verdwyn, is selfs ’n enkele besering, ’n oorlewingsgeveg. Hy oorleef, maar dit is nie ’n lewe nie.

’n Dam wat nie meer funksioneer

Beeldmateriaal wys hoe ganse deur die digte groen massa moet worstel om by ’n klein kolletjie oop water uit te kom. Swem is nie meer natuurlik nie; dit is geforseerd.

Geen visaktiwiteit is waarneembaar nie. Geen borrels, geen beweging onder die oppervlak nie. Wat eens ’n paradys van biodiversiteit was, is nou bedek met babergras en parasiete.

Foto: Carmia Jansen van Vuuren.
Foto: Carmia Jansen van Vuuren.

Die riete en gras langs die oewer is oorgroei, daarom is toegang tot oop water beperk. Die dam word by die dag meer ontoeganklik vir diere én mense.

Waarheen is die natuur?

Daar was ’n tyd toe die dam vol lewe was, maar vandag is daar min ganse, minder voëls en geen vis in sig nie.

Damme verval nie oornag nie. Hulle verswak stadig, deur besoedeling wat opbou, stormwater wat invloei en gemors deur onverantwoordelike inwoners met die gedagte dat ‘iemand anders’ die rommel, gebruikte naalde en vullis sal weggooi.

En intussen ry mense verby. Kyk. En ry verder.

Foto: Carmia Jansen van Vuuren.

Verskeie berigte rakende die babergras is al vanaf 2016 reeds geskryf, waarna gif gespuit is om die pes uit te wis. Ongelukkig keer dit elke keer terug. Rdl. Johann Dyason verduidelik dat klagtes op dowe ore val en dat hy keer op keer dieselfde antwoord van die munisipaliteit ontvang: Die gif is té duur, daar is nie fondse nie.” Nou is die dam só oorgroei dat uitkap nie ‘n oplossing sal bied nie.

Foto: Carmia Jansen van Vuuren.

Nie onomkeerbaar nie

Volgens afgetrede veearts dr. Leon Connoway, het hy op die video nie net kolganse opgemerk nie, maar rietduikers ook. Rietduikers eet klein vissies en waterinsekte. As water te besoedel is (riool, alge, lae suurstof) soos die Dennesig dammetjies, vrek klein vissies eerste waarna hierdie watervoëltjie verdwyn of wegtrek. Jong voëls is die eerste wat dit nie oorleef nie.

‘n Jong Rietduiker by die dammetjie. Foto: Carmia Jansen van Vuuren.

Die teenwoordigheid van jong rietduikers dui daarop dat die damme darem steeds ’n werkende ekosisteem het, maar hul oorlewing bly direk afhanklik van waterkwaliteit, stabiele watervlakke en gesonde rietgroei.

Kenners verbind die spesifieke alge-uitbrekings aan oormatige besoedeling in die water, dikwels afkomstig van stormwaterafloop, moontlike rioollekkasies wat inwoners voorheen aangemeld het of huishoudelike besoedeling.

Foto: Carmia Jansen van Vuuren.

Tog lê die oplossing nie in oppervlakkige algeverwydering en skoonmaak nie, maar in die identifisering en staking van besoedelingsbronne, watergehalte-toetse, fisiese verwydering van oormatige alge en die herstel van suurstofvlakke.

Babergras kan net met ’n omgewingsvriendelike gif uitgewis word. Die sleutel tot die oorlewing van hierdie voormalige oase lê, sonder twyfel, in volgehoue bestuur en monitering van die akwatiese fauna en flaura.

Hierdie natuurramp is nie onomkeerbaar nie, maar die beseerde kolgans met een poot, is ‘n hartseer herinnering dat wagtyd, altyd ’n prys het.

’n Kolgans se oorlewingstryd. Foto: Carmia Jansen van Vuuren.

As Dennesig eens ’n paradys in Middelburg was, maar vandag ’n parasietpoel met ‘n beseerde kolgans wat worstel vir oorlewing is, is die vraag eenvoudig;

Wie gaan optree – en wanneer?

KYK: https://www.tiktok.com/@middelburgobserver/video/7605600970503916816?is_from_webapp=1&sender_device=pc

@middelburgobserver

KYK: Dennesig dammetjies – ’n Kolgans se oorlewingstryd Eendjies, eendjies, truppel in ’n ry. Een, twee, drie, vier, sukkel hul verby. Links, regs, links, regs, kyk hoe swak! Reguit dam toe … kwaak, kwaak, kwaak. Lees meer: #middelburgobserver #middelburg #mpumalanga #stevetshwetelocalmunicipality #animalwelfare #dennesigdammetjies

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Carmia Jansen van Vuuren

Carmia is an up-and-coming junior journalist at the Middelburg Observer. She has a burning passion for creative writing and poetry. She is a qualified language educator but fiercely enjoys the challenges that writing and reporting offer. Her focus spreads over different fields, including human interest, hard news, investigative reporting, and sports.
Back to top button