Borguitspraak vandag vir oudpolisieman wat op 37 klagtes tereg staan
Borguitspraak word vandag gelewer in die saak teen die oudpolisieman wat in Desember gearresteer is en tereg staan op talle klagtes waaronder verkragting.
‘n Voormalige polisieman wat aangekla word van 37 klagtes wat wissel tussen verkragting, poging tot verkragting en onsedelike aanranding, sal vandag hoor of hy borg kry of nie.
Daar was aanvanklik 13 klaers is in die saak, maar daar is tydens die vorige borgaansoekverrigtinge in Januarie aangedui dat nog twee klaers na vore gekom het.
Die oudpolisieman is in Desember in die Kaap gearresteer waar hy vlugtig verskyn het en daarna na Middelburg gebring is vir borgaansoek. Die saak is uitgestel na Januarie waar redes vir borgaansoek voorgelê is deur prokureur Josef van Eeden en die redes teen borg hanteer is deur adv. Derik Rowles.
Die klagtes op hierdie stadium teen die voormalige kaptein in die Suid-Afrikaanse Polisiediens sluit in: 11 vir verkragting, ses vir onsedelike aanranding, vyf vir seksuele aanranding, 13 vir geslagsgeweld en een vir crimen injuria. Die ander twee klaers se klagtes is nog nie in die hof voorgelê nie.
Die verdediging het talle redes aangevoer waarom hy moet borg kry, waaronder:
• Dat hy nie ‘n vlugrisiko is nie.
• Dat hy in beheer is van ‘n groot maatskappy en ‘n kontrak verloor het omdat hy in aanhouding is.
• Dat hy siektetoestande onder lede het en medikasie daarvoor gebruik.
• Dat hy nie weet wie die klaers is nie en daar dus nie ‘n kans is dat hy met hulle kontak kan maak om hulle te intimideer nie.
In antwoord op laasgenoemde het adv. Rowles gemeld dat die beskuldigde in verhoudings was met ten minste twee van die klaers en dus wel weet wie dit is.
• Borguitspraak word vandag in die streekhof gelewer, waar die borgaansoek ook hanteer is.
• Die oudpolisieman se naam word nie genoem nie, omdat hy nog nie gepleit het nie.
