Dwelmverslaafde: ‘My lewe is op ’n dun lyn’
’n Dwelmverslaafde jong man wil dwelms los, maar hy sê hy kan dit nie alleen doen nie, hy het hulp nodig.
Damian van Tonder weet dwelms kan sy lewe kos, maar hy weet ook dat hy nie alleen uit die dwelmdraak se kloue kan ontsnap nie.
Hy het die Observer gekontak en angstig vir hulp gevra.
Die 24-jarige jong man is moedeloos, want al weet hy wat die dwelms aan hom doen, gaan haal hy steeds daagliks drie keer per dag sy fix.
Hy erken dat hy kristalmetamfetamien en heroïen gebruik. “Ja ek spuit, ek gebruik crystal meth en thai, maar ek is moeg vir die straatlewe en moeg om aangerand te word naby die taverns waar ek my dwelms moet gaan haal.”
Damian sê hy “hardloop elke dag vir my lewe, want jy word amper die hele tyd aangeval.”
Om sy bags in die hande te kry, bedel hy oral waar hy kan. “Ons betaal R20 per bag vir heroïne en R50 vir crystal meth.”
Hy is dankbaar as mense vir hom kos gee, “ek eet eers en maak seker ek is versadig, voor ek die ander kos verkoop vir dwelmgeld.”
Damian is goed bewus van verslaafdes wat al op sypaadjies gesterf het weens hul verslawing. Mense soos JC Lusse wat verlede jaar September onder ’n kombers gesterf het.
Damian bly ’n oomblik stil en sê dan: “Ek weet my lewe is op dun lyn, maar ek kan hierdie nie alleen doen nie. Ek het hulp nodig.”
• Die Oorwinnaarshuis vir dwelmverslaafde mans, wat vele gehelp het om dwelms af te skud, is al meer as twee jaar toe. Pastoor Jannie Jacobs was aan die stuur van die huis.
Daar is egter ander groepe in die dorp wat alles in hul vermoë doen om verslaafdes te help.
• Chainbreakers kom Maandagaande tussen 18:00 en 19:30 by Corpus Christi byeen en ondersteun talle verslaafdes wat deur rehabilitasie gaan. Navrae kan gerig word aan Elna Lewis by 082 556 4467.
• Serving Disciples bedien verslaafdes Dinsdagaande vanaf 18:00 met kos en Woord by die Presence Kerk in Meyerstraat. Johan Cornelius (voorsitter) 082 441 8379 of Annemarie (082 896 2103) kan geskakel word.
Saterdag gaan die span van Serving Disciples met ’n uitreik-aksie vanaf 10:00 Middelburg se strate strate invaar en kos en water aan dwelverslaafdes en haweloses uitdeel.
