News

KYK: Maaggogga dwing roeiers uit die Dusi kano marathon

Vasgevang in dodelike maalkolk moes twee veg op oorlewing.

Die verraderlike Dusigogga het Middelburg se Dusi deelnemers op dag drie uit die wedvaart gedwing.

Vol blou kolle en pap na ’n geveg met die maaggogga het Colin Hertzog Maandag vertel hoe het sy eerste Dusi saam met roeimaat Shaun Bekker afgeloop.

Hy het na die Vaalrivier wedvaart reeds met ’n maagaandoening gesukkel weens die land se besoedelde riviere.

Op die eerste dag van die Dusi het hulle twee keer water gesluk.

Water wat vol is van die maaggogga.

Dag twee het dit nog goed gegaan, maar daarna het die braking begin.

“Die maaggogga het my gevang, hy maak jou gelyk met die aarde,” het Colin vanoggend vertel.

Hy was vasberade om die derde en laaste dag te begin, eers net vier kilometer te roei en daarna te kyk hoe dit gaan, maar was net te siek om die boot in die water te kry.

Omdat hulle nog onervare is, het hulle tegniese foute gemaak wat vir benoude oomblikke gesorg het.

Die Tombi-stroomversnelling is na ’n vrou vernoem en daar word gesê dat sy “’n stormagtige dame was”.

Die stroomversnelling is volgens roeiers “humeurig, sommige roeiers skraap teen die rots af sonder om hul hare nat te maak, maar sommige val vas in haar woede”.

@middelburgobserver

The Tombi white water rapids almost got the best of local Dusi canoe marathon participants Shaun Bekker and Colin Hertzog. They emerged from a maelstrom with black and blue bruises.

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

Daar word gesê “in hoogwater is dit ’n fyn lyn om te ontsnap aan haar tentakels wat lyk asof hulle stroomaf reik en jou terugtrek in haar maalstroom.”

En toe gryp Tombi vir Colin en Shaun, draai hulle om en om in die maalkolk, laat hulle water sluk en moes hulle baklei om asem te kry.

“Die Dusi kan gevaarlik wees. Ons moes regs gaan, maar het die verkeerde lyn gevolg en links geroei by die stroomversnelling.

Daar was nie ’n boot voor wat ons kon volg nie. Die volgende oomblik was ons in die gat en onder die waterval. Ons was vasgevang in die maalkolk en kon nie uitkom nie. Nadat ons gespook het om asem te kry, is ons vol blou kolle daar uit.”

Maar is die Dusi werklik erger as die Comrades?

Colin, wat al 20 Comrades wedlope op sy kerfstok het, sê dit is ’n moeilike vraag om te beantwoord.

“Dit vergelyk goed met Comrades. Die drafgedeelte was hard, omdat ons ’n swaar 34kg boot moes dra. Dit was taai en ons was nog dom.”

Sal hulle die Dusi met sy giere en gevaarlike stroomversnellings weer aandurf?

“Dit het al my verwagtinge oortref, die uitdaging en die natuurskoon, maar ek sal eers hierdie maaggogga moet baasraak.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button