Wapenhandelaar vandag weer in hof
Die wapenhandelaar van Middelburg wat verlede week vlugtig in die hof verskyn het op ’n klagte dat die fasiliteit waar wapens gestoor is, nie aan wetlike doeleindes voldoen nie, sal vandag weer in die hof verskyn.
Safari Ammunisie se eienaar, Theo Neehtling (55), het vlugtig in die hof verskyn en R5 000 borg betaal.
Die onderneming is egter steeds oop vir sake.
Theo se seun, Theo jnr, het vanoggend bevestig dat hul steeds oop is. “Ons was nooit toe nie!”
Hy wou nie uitbrei nie, maar het wel gesê dat die saak spruit uit boedelwapens wat by hul ander kluis op ’n plot buite eMalahleni gestoor is. Die polisie het op die wapens beslag gelê. Hy glo hulle sal alles terugkry vir hul kliënte sodra die polisie hul ondersoek voltooi het.
Theo jnr. het onder andere genoem dat hulle ten alle tye “oop en eerlik was met die polisie en hulle vergesel het na die ander kluis buite eMalahleni. Ons het niks om weg te steek nie.”
Hulle is reeds 10 jaar die eienaars van Safari Ammunisie en sê dat hulle nog al die jare die reëls gevolg het, “soos daar deur die polisie aan ons geadviseer is.”
Hy het gevra dat “mense nie stertjies moet aanlas oor wat aan die gang is nie. Mense maak sommer stories op wat nie waar is nie.”
• Mnr. Neethling sal vandag weer in die hof verskyn.
Hy is verlede week gearresteer tydens ’n optrede van die Nasionale Opsporings- en Nasporingstaakspan onder Operasie Buyisa.
Volgens ’n persvrystelling deur die polisie, het die span aanvanklik inligting opgevolg dat ’n sekuriteitsfirma na bewering hul besigheid bedryf met vuurwapens wat se lisensies verval het. Verdere ondersoek het hulle gelei gelei na ’n plot buite eMalahleni, aangesien daar gesê is dat die handelaar van dié sekuriteitsmaatskappy se wapens stoor.
Daar is 537 gelisensieerde wapens op die plot gevind, maar hy is aangekla omdat die bergingsfasiliteit nie aan die standaarde voldoen wat uiteengesit is onder die Wet op die Beheer van Vuurwapens nie.
Die persverklaring het ook gemeld dat die wapenhandelaar glo nie meer genoeg stoorplek by sy geregistreerde sakeperseel gehad nie.