Bokkie se oorskot in sak langs Stoffbergpad gelos
Kenners krap kop oor watse bokkie dit kan wees.
Wildskenners krap kop oor watse bokkie se oorskot in ’n sak langs die Stoffbergpad deur ’n inwoner gekry is.
’n Vrou het Dinsdag in die ry uit die dorp uit die oorskot gesien in die verbygaan.
Sy het aanvanklik op ’n plaaslike WhatsApp-groep gesê dat dit vir haar soos honde lyk.
Toe sy na 16:00 weer die dorp inry, het sy besluit om te stop.
Dis toe dat sy gemerk het dat dit een of ander bokkie is. Sy vermoed dalk ’n steenbokkie of ’n duikertjie.
Sy wou egter nie die sak verder oopmaak nie.
Sy vermoed dat die bokkie moontlik gestroop is en die oorblyfsels langs die pad gegooi is.
Middelburg Observer het verskeie wildskenners gevra om te help om die oorskot te identifiseer maar almal was dit eens dat hulle nie ’n raaiskoot wou neem nie en eers meer wou sien.
