Groot name struikel in SA Ope
Ernie Els en Oliver Bekker onder spelers wat onder valbyl beland.
Groot name het vanndag onder die valbyl beland, na die tweede rondte van die Suid-Afrikaanse Gholf Ope wat in Stellenbosch beslis word.
Onder hulle tel Ruan Korb wat twee rondtes van 71 op sy telkaart ingevul het met ’n twee houe oor die baansyfer.
Daar is verwag dat Oliver Bekker sou floreer want Stellenbosch is sy tuisbaan en hy het verlede week die Durban Ope gewen.
Hy het sy eerste rondte 73 opgevolg met ’n 74 vir ’n liederlike sewe houe oor baansyfer.
Maar die valbyl het ook op die kop van Ernie Els neergekom wat sy 74 opgevolg het met ’n 72. Toeskouers sal teleurgesteld wees dat die Big Easy uit die toernooi is.
Charl Swartzel het nooit herstel na sy nagmerrie eerste dag en 77 op sy telkaart nie. ’n Tweede rondte van 68 kon hom nie red nie, want hy was steeds op +5.
Nelspruiter Thriston Lawrence het sy telkaart ontsier met ’n tweede rondte van 72 wat hom op +4 gelaat het.
Francesco Laporta is die voorloper op -10 gevolg deur Nathan Kimsey op -9 en Dean Burmester op -8.
Suid-Afrika se Hennie du Plessis is die verrassingspakket op -7.
