Hoërskool Middelburg se 2025 eerstespan rugbykaptein, Hencoe Janse van Rensburg (19), of Choek soos hy bekend was, is op pad na Japan.
Die sluise is behoorlik oop vir Suid-Afrikaanse rugbyspelers wat hulle heil in Japan gaan soek.
Dit is veral groot voorspelers wat gesog is.
Hy volg in die voetspore van die HTS Middelburg oudleerling en Springbok, Kwagga Smith, wat vir Yamaha Shizuoka Blue Revs speel.
HTS Middelburg se eerstespan afrigter, Jano Venter, het vir Shimizu Koto Blue Sharks uitgedraf, voordat ’n besering sy rugbyloopbaan kortgeknip het.
Een van die Rooi Bulle se beste spelers verlede jaar, Janco Aucamp, speel vir Shizuoka Blue Revs. Hy het ’n driejaar kontrak onderteken.

Die HTS Middelburg kaptein van 2025, Johnny dos Santos, speel ook sy rugby in Japan en studeer aan die Hakuoh Universiteit.
Janse van Rensburg het ’n kontrak onderteken om vir Clean Fighters Yamanashi uit te draf.
Yamanashi speel in die tweede divisie nadat hulle verlede jaar net-net nie gekwalifiseer het om na die gesogte eerste divisie op te skuif nie.
Die klub hoop dat hy met ’n paar aanwinste in die hoër liga kan speel.
Daar is natuurlik ’n ekstra geelwortel vir die jong Suid-Afrikaner, met ’n vier jaar kontrak en vooruitsig dat hy vir die Japanese nasionale span in die toekoms kan uitdraf.
Die oud Blou Bulle flank Lappies Labuschagne en Wimpie van der Walt wat vir die Westelike Provinsie uitgedraf het, het albei vir Japan se nasionale span gespeel.
Janse van Rensburg, het ’n interessante rugbygeskiedenis.
Hy het sy bynaam alreeds by Laerskool Staatspresident CR Swart gekry toe sy pa hom Choek begin noem het.
Losskakel of senter was toe sy gunsteling posisie.
By Hoërskool Middelburg het hy op heelagter uitgedraf, maar later na agsteman geskuif.
“Ek hou van kontak, daarom is dit vir my lekker tussen die voorspelers,” vertel hy.
In Japan kan hy met sy 108 kilogram en 1.92m ’n groot verskil maak.
Wat gaan hy die meeste van Suid-Afrika mis wanneer hy Sondag op die vliegtuig klim vir sy Japanse avontuur? “Braaivleis!”.
