Daar word dikwels van spelers gesê hulle is ’n Springbok sonder baadjie.
Dit beteken hulle was goed genoeg om vir die Bokke te speel, maar is nooit gekies nie.
Harry Muller wat vir Suidoos-Transvaal op heelagter uitgedraf het, was een van daardie spelers. Hy kon boonop losskakel en senter speel.
Nog so ’n speler is Charles Pietesre die skitterende Transvaal losvoorspeler.
Daar is ’n rits ander.
Tien vaskoppe gehaak
Maar die vraag het weer die afgelope tyd opgeduik; het ’n rugby beampte Richard Cooke sy Springbok kleure gekos?
Oud Suidoos-Transvaal voorry, Jan Erasmus, het ’n berig aangestuur, waarin die Bok haker, Willie Kahts, melding maak van Cooke wat tien vaskoppe by hom gehaak het.
Die wedstryd was op 12 September 1980 in die Curriebeker halfeindstryd teen Noord-Transvaal op Loftus Versfeld.
Suidoos se span was
Harry Muller, Johan Greyling, George Minnaar, Kallie Grobler, Hein Mentz, Hendrik Koekemoer, Louis Pietersen, Menanteau Serfontein (k), Jorrie Jordaan, Kat Smit, Bertus van Eeden, Vleis van Zyl, Fanie Vermaak, Richard Cooke, Ben Putter.
Toe ek in die hysbak klim na die wedstryd op pad na die onthaal, het dit in die hysbak gegons. Nie oor Noord-Transvaal wat met 43-6 gewen het nie, maar oor Cooke se tien vaskoppe.

Die hoofbesprekingspunt
By die onthaal was dit dieselfde storie.
Die Bok haker wat tien vaskoppe afgestaan het was die hele aand die hoofbesprekingspunt.
Tydens die Bokke se toer in 1981 na Nieu-Seeland het Kahts sy skouer so erg beseer, dat hy in die hospitaal opgeneem is.
Shaun Povey van die Westelike-Provinsie is ontbied om hom te vervang.
Nie fiks genoeg
Daar is toe al aan my gesê ’n Springbok keurder het die sekretaris van Suidoos-Transvaal sekretaris, Julius Weber, geskakel om na Cooke se vorm te verneem. Hy het op daardie stadium die beste rugby van sy loopbaan gespeel.
Weber het egter volgens die gerugte gesê dat Cooke beseer is en buitendien nie fiks genoeg was om Kahts te vervang nie.
Het dit maar daar gelaat.
En nou meer as 40 jaar later is dit asof die legkaart eers bymekaar kom.
Nelie Smith was die keurder in Nieu-Seeland wat waarskynlik vir Butch Lochner in Suid-Afrika gevra het om Weber te kontak. Lochner het Suidoos wedstryde bygewoon en het ’n hoë dunk van Cooke gehad.

“Maar dit is geskiedenis”
Die Bok kaptein tydens daardie toer, Wynand Claassen, sê hy het nie insae gehad in die spankeuses nie. Dit was buitendien ’n toer waar daar groot onenigheid oor spankeuses was.
Cooke sê hy het ook verneem dat Weber sou gesê hy is beseer “maar dit is geskiedenis”.
Maar daar is veral een voorval wat my die afgelope tyd aan die dink gesit het. Weber het vir seker 40 jaar goue medaljes wat die spelers ontvang het as Sport Pienaarbeker wenners, by hom gehou. Dit is pragtige medaljes wat die Suid-Afrikaanse Rugbyraad spesiaal laat maak het.
“Jy kan hierdie medaljes vir die spelers gee”
Hy het ’n plastieksak een aand in my hand gedruk en gesê “jy kan hierdie medaljes vir die spelers gee”.
Weber is in 2024 oorlede in die SAVF Ouetehuis op Middelburg.
Eerskomende naweek vat ek een van die laaste medaljes Kaap toe om aan ’n speler te oorhandig, die haker Clive Schlachter.
Schlachter is met fase vier kanker gediagnoseer.
