News

MIDDELBURG ERFENIS: Die eerste hospitaal in Middelburg

10 Maart 1921

In die laat negentiende eeu begin die eerste hospitale in die Zuid-Afrikaanse Republiek verskyn. Dit was ’n vreemde konsep vir die landelike bevolking, wat gewoond was om hul siekes deur lede van die familie of bure tuis te versorg.

In 1890 lê President Paul Kruger die hoeksteen van die nuwe Volkshospitaal in Pretoria wat oor 70 beddens beskik het. Behalwe vir die hospitale in Johannesburg en Pretoria was die ander hospitale klein en baie swak toegerus.

Verskeie pogings is oor die jare aangewend om ’n hospitaal in Middelburg op te rig. In 1890 word ’n plan vir ’n twee-vertrek hospitaal, ontwerp deur dr H. Niemeyer, die distriksgeneesheer, aan die Uitvoerende Raad voorgelê, dit word afgekeur weens ’n gebrek aan fondse.

Handwritten document featuring a drawing of a house, labeled "Middelburg Hospital."
PLAN VIR VOORGESTELDE MIDDELBURG HOSPITAAL 1890 DR H NIEMEYER (FOTO: TAB)

In 1895 word daar weer ’n poging aangewend om geldelike steun van die regering te bekom vir die bou van ’n hospitaal. ’n Memorie (Petisie) geteken deur 63 van die inwoners word deur die landdros, na die regering deurgestuur. Die memorie bevat die handtekeninge van vele van die bekende ou inwoners van die dorp. Ingesluit is ’n verslag deur dr P.A.H. Lillpopp, die distrikgeneesheer wat die situasie verduidelik, dat al plek waar hy siekes, wat sonder heenkome is, kan versorg is in ’n klein kamertjie in die tronk (een van die leë selle). Die staatsekretaris is van oordeel dat inwoners tot die koste moet bydra, waarop die landdros antwoord dat die dorp se klein inwonertal reeds herhaalde male gevra is vir geldelike bydraes vir ander projekte. Van die saak kom ongelukkig ook niks.

A book featuring handwritten notes and signatures throughout its pages, indicating personal annotations and reflections.
PETISIE VIR OPRIG VAN ‘N HOSPITAAL MET 63 HANDTEKENINGE 1895 (FOTO: TAB)

Tydelike en oorlogshospitale in Middelburg
Hospitaal tydens die Sekhukhune Oorlog

Die eerste verwysing na ’n hospitaal in Middelburg is in 1878 tydens die Tweede Oorlog teen die Pedi, gedurende die Britse besetting. ’n Huis op erf 73 in Lang(e)straat word deur landdros John Scoble van Samual Veits Oertel gehuur vir £8 per maand vanaf 13 Mei 1878. Die hospitaal het definitief tydens die oorlog gefunksioneer, tot Private Loriner, ’n koloniale vrywilliger, met ’n fraktuur knieskyf die laaste pasiënt was. Die hospitaal is na die afloop van die oorlog gesluit.

Aerial perspective of the hospital highlighted by a blue arrow pointing to it.
MIDDELBURG SE EERSTE OORLOGSHOSPITAAL – GEOPEN VIR SEKHUKHUNE OORLOG IN HUIS GEHUUR VAN SV OERTEL (FOTO: KOBUS TERBLANCHE)

Bierhal (Biersaal) Hospitaal

In die aanloop tot die Anglo-Boereoorlog word tydelike hospitale in verskeie sentra geopen. Die inwoners van Middelburg besef die behoefte aan ’n hospitaal vir gewondes en mev. Nellie Maree, eggenote van die sendeling eerw. Maree, rig op 8 September 1899 ’n brief aan die staatsekretaris waarin die behoefte gestel en ’n bedrag van £500 gevra word vir die inrig van die hospitaal. Of die geld ontvang is, is onbekend.

In Middelburg is die hospitaal in die Biersaal ingeruim. Die Biersaal was in Walter Sisulustraat, net noord van die hoek met SADCstraat, waar die huidige Bosch-gebou staan. Die hospitaal is ingeruim deur dr Van Gorkum, die NZASM dokter in Middelburg, met hulp van verpleegster Jeanette Petronella van’t Staaf en daarna oorgeneem deur dr Wilhelm Boeck Bidenkap.

Historic image of the first beer hall showcasing its architecture and lively atmosphere.
MIDDELBURG BIERSAAL (NA OPKNAPPING IN 1904) (FOTO: O.H. FREWIN – AI GEKLEUR)

Die hospitaal het oor 30 beddens beskik en die kroegtoonbank is as teatertafel voorberei. Drankrakke is gebruik vir medikasie.

Geen inligting is bekend oor die hospitaal se funksionering nie, maar daar kan aangeneem word dat, na die val van Pretoria en die aanvang van die Britse aanmars langs die Oosterspoor, gewondes na Middelburg afgevoer sou word, aangesien dit die eerste groot sentrum vanaf Pretoria was. Daar sou waarskynlik ook siek boere in die hospitaal opgeneem gewees het.
Wat wel bekend is, is dat daar wel pasiënte in die hospitaal was toe die Britse aanmars nader gekom het en dié is op 25 Julie 1900 per ambulans-trein na Waterval-Onder verskuif, na die NZASM spoorweg hospitaal.

No 17 Stationary Hospital
Met die inname van Middelburg op 27 Julie 1900 is No 17 Stationary Hospital, een van die groot Britse hospitale met 400 beddens vorentoe geskuif en in Middelburg ontplooi. Volgens die korrespondensie is die hospitaal in die middel van die dorp ontplooi tot ontsteltenis van die inwoners. Die hospitaal was in tente ontplooi direk noord van die ou Gereformeerde Kerk (waar die huidige Gereformeerde Pastorie staan). Verskeie gewonde Boere is ook hier opgeneem en oorlede. Die hospitaal funksioneer vanaf 17 Augustus 1900 en bly in Middelburg ontplooi tot 31 Mei 1902.

A grassy field featuring several tents set up for an outdoor event or camping.
NO 17 STATIONARY HOSPITAAL TYDENS DIE ANGLO-BOEREOORLOG – DIE GEBOU REGS IS DIE OU GEREFORMEERDE KERK. DIE STRAAT VOOR IS JOHN MAGAGULA (COETZEE) STRAAT (FOTO: LAVER VERSAMELING – AI GEKLEUR)

Middelburg Cottage Hospital
Omrede Middelburg nie oor ’n burgerlike hospitaal beskik het nie, word ’n behoefte vir ’n hospitaal deur die Britse owerhede geïdentifiseer. Vanaf 28 April 1901 funksioneer die hospitaal, bekend as die Cottage Hospitaal, in ’n huis van mnr. W. van Waal op Erf 543 Weeberstraat 12. Die hospitaal beskik oor nege beddens in twee vertrekke (vyf vir vroue en vier vir mans) en personeel bestaande uit ’n matrone (Sr Maclay uit Australië) en twee probationers (Nurses Florence en Bimms) uit die Refugee Camp (Konsentrasiekamp). In die agt maande na opening hanteer die hospitaal 42 pasiënte waarvan drie sterf. Die geneeshere van die dorp, drs. Spencer, Pittet. Van Gorkum, Moorhead en MacKenzie laat hul siviele pasiënte in die hospitaal opneem. ’n Tweede huis langsaan is bygehuur vir swart pasiënte.

Die statistieke van die Cottage Hospitaal gee ’n goeie aanduiding van die siekte-profiel onder die siviele inwoners van Middelburg tydens die oorlog. 21 gevalle van Tifoïed (Enteric Fever) is opgeneem, vyf van kroep (Crup) (dit is waarskynlik witseerkeel as na behandeling gekyk word), vier gevalle van malaria, drie gevalle van pneumonie. Ander gevalle sluit in kinkhoes, laringitis, phthisis, nierstene, lintwurm. Chirurgie sluit in mangelverwydering en insnyding in die lugpyp. Die Cottage Hospitaal funksioneer tot 1904.

Kraaminrigting
’n Suster Madge bedryf ’n kraaminrigting op ’n onbekende plek. Vanaf 1923 tot 1937 het sr Jo van Heerden ’n kraaminrigting bedryf in haar huis in Wesstraat 65 (Berig in Middelburg Observer op onbekende datum).

A woman stands outside a house, smiling, with a garden visible in the background.
SR JO VAN HEERDEN HET ‘N KRAAMINRIGTING BEDRYF IN HAAR HUIS IN WESSTRAAT 65 (FOTO: MIDDELBURG OBSERVER – AI GEKLEUR)

Militêre Hospitaal Middelburg
Na die inname van Middelburg in 1900, word meer semi-permanente strukture geleidelik opgerig vir die garnisoen, wat na die vredesluiting in 1902 in Middelburg gevestig word. Die basis vir die garnisoen word as ’n kantonnement opgerig op die terrein waar die provinsiale hospitaal en Clubville tans is. Die kantonnement geboue was hoofsaaklik sinkgeboue wat uit Indië na Suid-Afrika gebring is. Een van die geboue was ’n ruim militêre hospitaal wat ook van sink en hout gebou is. Dit wil voorkom asof die hospitaal vanaf ongeveer 1904 tot 1908 in Middelburg gefunksioneer het.

An old black and white photo depicting a large, historic building with intricate architectural details.
MIDDELBURG GARNISOEN HOSPITAAL (FOTO: CAROL HARDIJZER)

Korrespondensie van die stadsraad gedateer 24 Maart 1904, dui aan dat ’n terrein goedgekeur is vir die bou van ’n permanente (sink) Militêre Hospitaal en versoek dat ’n aantal beddens ook vir eerste en tweede klas burgers en armlastiges gereserveer moet word.

In 1908 onttrek die garnisoen in die opbou tot die Eerste Wêreldoorlog. Die geboue word per veiling verkoop. Die offisiersmenasie is deur genl. JC Smuts gekoop en by Irene opgerig as ’n woning. Die kantoorblok is deur die stadsraad gekoop as munisipale kantore. Die bevelvoerderswoning van die garnisoen bevelvoerder en omliggende grond is deur Henry Joseph Laver gekoop en deur mnr. Wirth in huurpag geneem. Hierdie huis (en nie die Militêre Hospitaal nie) is in 1921 vir £6000 deur die hospitaal komitee van Middelburg as eerste hospitaal aangekoop.

Middelburg en Distrik Hospitaal (Sink Hospitaal)
Tydens die griep epidemie van 1918 en daarna, is die behoefte aan ’n hospitaal op Middelburg dringend ondervind. ’n Komitee onder voorsitterskap van mnr. D.L. Kroch, die onder-magistraat, koop in 1921 die ou garnisoen bevelvoerdershuis en terrein vir £6000.

Die gebou was U-vormig om ’n binnehof met ’n verbindingsgang rondom die binnehof. Aangrensend was ’n buitegebou wat die kombuis gehuisves het en werkerskwartiere wat later in ’n isolasie fasiliteit omskep is.

Architectural blueprint displaying the hospital's floor plan, including room layouts and measurements.
PLAN VAN SINK HOSPITAAL CIRCA 1921 (PLAN TAB)

Die huis is omgebou tot ’n hospitaal met ses beddens en twee verpleegsters het daar diens gedoen. Mej. H.H. Tracey was die matrone. Die Middelburg en Distrikhospitaal is op 10 Maart 1921 amptelik geopen deur die administrateur, mnr. A.G. Robertson.

DIE UNIEKE AMPTELIKE GEDENKALBUM UITGEGEE MET OPENING VAN DIE DISTRIK HOSPITAAL OP 9 MAART 1921 EN GEDRUK DEUR OH FREWIN
DIE UNIEKE AMPTELIKE GEDENKALBUM UITGEGEE MET OPENING VAN DIE DISTRIK HOSPITAAL OP 9 MAART 1921 EN GEDRUK DEUR OH FREWIN – (BRON REX HILLIGAN)
A book featuring handwritten notes and signatures throughout its pages, indicating personal annotations and reflections.
PETISIE VIR OPRIG VAN ‘N HOSPITAAL MET 63 HANDTEKENINGE 1895 (FOTO: TAB)

Dit het egter maar beroerd gegaan met die geldsake van die hospitaal, sodat dr JH Rosseau en mnr. Peter Robertson by geleenthede die verpleegpersoneel se salarisse uit hul sak moes betaal en mnr. Gert Minnaar lank sonder betaling as sekretaris gewerk het. In 1928 is ’n verpleegsterstehuis by gebou.

In 1930 word die hospitaal uitgebrei waartydens die munisipaliteit nog vier beddens vir aansteeklike siektes ekstra bou teen £810. Die hospitaalraad bou ook in 1930, met subsidie van die provinsiale administrasie, ’n aparte gebou met agt beddens by vir swart pasiënte teen £900.
In 1937 begin verpleegstersopleiding by die hospitaal.

Daar moes nog uitbreiding plaasgevind het, want alhoewel die hospitaal net 28 beddens beskikbaar gehad het, was die gemiddelde bedbesetting in 1937 34/dag!
Die hospitaal was deurentyd ’n privaat hospitaal met staatsubsidie, wat bestuur is deur ’n hospitaalraad. In 1934 was die inkomste R11 380 en die uitgawes R9 380!!

Na die oprigting van die nuwe Moerdyk Hospitaal in 1938, word die Sink Hospitaal vanaf 1940 deur die Unie Weermag gehuur as hospitaal tydens die Tweede Wêreld Oorlog. Verskeie geboue word deur die weermag op die terrein bygebou.

Die Sink Hospitaal dien na die Tweede Wêreld Oorlog as verpleegsterstehuis en is ongeveer in 1970 afgebreek en die terrein her-uitgelê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button